’n Egpaar van Ceres se maand lange idilliese wegbreek het op hul eerste nag in ’n nagmerrie ontaard toe hulle tydens hul vakansie aangeval en met die dood gedreig is.
Eddie Reyneke (64), ’n oogkundige, en sy vrou, Deona (62), het vroeër vandeesmaand op vakansie na Namibië vertrek.
Dié twee Ceresiete het die grens op 1 Julie by die Alexanderbaai-grenspos oorgesteek en verby Oranjemund na die Bo-plaas-kampterrein langs die Oranjerivier – sowat 60 km van Rosh Pinah – gery.
Volgens die egpaar het hulle omstreeks 18:00 by die kampterrein aangekom, waarna hulle kamp opgeslaan en ’n vuurtjie aangesteek het.
Teen omstreeks 20:20 het die Reynekes ’n motor sowat 100 m van hul staanplek af gewaar. Die motor het op en af gery. Hulle het onraad vermoed en hul pepersproei gaan haal.
“Dit het vir ons vreemd gevoel; dit is te laat en eensaam vir ’n motor om so te ry,” het Eddie gesê.
Die volgende oomblik het chaos uitgebreek toe ses mans – almal gewapen met pangas en messe – skielik op die Reynekes se staanplek afgestorm het.
Drie van die aanvallers het Eddie platgetrek terwyl die ander drie Deona aangeval het.
“Daar was nie tyd vir skree nie; daar was tyd vir niks,” het Deona aan Standard gesê.
Eddie is met ’n mes in die hand en rug gesteek. Hy is later in die hospitaal in Oranjemund behandel en moes steke aan sy hand ontvang.
Die verdagtes het Deona se juwele van haar afgeruk en hulle het hul voertuig geplunder op soek na waardevolle artikels. Deona het gesê die mans het haar hele lyf deurgevoel op soek na juwele.
Verder het die mans Eddie probeer dwing om geld elektronies uit sy bankrekening na hul rekening oor te dra, maar dit was weens ’n gebrek aan ’n sein nie moontlik nie.
Eddie en Deona se hande en voete is hierna in hul woonwa vasgebind terwyl hul aanvallers hulle met messe in die gesig met die dood gedreig het.
“Hulle het aanhoudend gesê ‘be quiet, or I will kill you’” terwyl hulle steeds aangedring het die egpaar moet geld na hul bankrekening oorplaas, vertel Deona.
Sy het gesê die rowers het gesê hulle het die egpaar van die grenspos aan die Namibiese kant agtervolg.
Nietemin, ná ’n ruk het die rowers in Eddie se bakkie van die toneel af gevlug.
Eddie het later daarin geslaag om sy hande los te kry en sy vrou bevry. Die egpaar het uit vrees nabye koppies in gevlug waar hulle tot sonop gewag en toe hulp gesoek het.
Ná sowat 15 km se stap het ’n motoris hulle gewaar en hulle terug na die Bo-plaas-kampterrein geneem, waar die terreinbestuurder en polisie reeds vir hulle gewag het.
Volgens Nelson Ashipala van Namibia Wildlife Resorts (NWR) wat die kampterrein bestuur, het die Reyneke-egpaar tussen 20:00 en 21:00 by die kampterrein aangekom, en as gevolg van die mistige weer het die bestuurder hulle nie gewaar nie.
Die volgende oggend het die bestuurder ondersoek ingestel en op die verlate en deurmekaar kampwaentjie afgekom.
Nietemin, volgens die Reyneke-egpaar is hiérdie weergawe van Ashipala onwaar. “Ons het om 18:50 by die kampterrein aangekom, en dit was nog lig,” het Deona gesê.
Sy het ook verduidelik dat dit nie mistig was nie en gesê sy kan onthou hoe die maan daardie aand helder geskyn het.
Die waarde van die Reynekes se gesteelde goedere beloop R300 000, wat verskeie tegnologiese toestelle en juwele insluit, sowel as R20 000 kontant.
Die Reyneke-egpaar beoog om ’n hofsaak teen die NWR aanhangig te maak en het verduidelik dat hulle nie tevrede is oor hoe die reisagentskap die voorval hanteer het nie.
’n Klagte is by die Aussenkehr-polisie, wat tans die voorval ondersoek, aangemeld.




