Die langafstandatleet Adriaan Wildschutt van die Ceres-vallei het nie net Vrydag 26 Januarie geskiedenis gemaak deur die eerste Suid-Afrikaner te word wat deur die grens van 13 minute in die 5 000 m bars nie, maar hy is letterlik ure hierna as Atletiek Suid-Afrika se Mansatleet van die Jaar aangewys.
Wildschutt, ’n oud- leerder van die Hoërskool Bella Vista in Ceres, het by die John Thomas Terrier Classic-byeenkoms van die Universiteit van Boston ’n skitterende oorwinning in 12:56.76 behaal en sy eie Suid-Afrikaanse kortbaan- binnenshuise rekord aan flarde laat spat.
Dit is die eerste keer dat enige Suid-Afrikaner op enige baan dié afstand in onder 13 minute kafgedraf het.
Wildschutt, wat ’n ruk lank deur die legendariese Zola Budd in Amerika afgerig is, het sy vorige rekord van 13:09.30, wat verlede jaar ook in Boston opgestel is, met meer as 12 sekondes verbeter.
Hierdie rekordbreek-oorwinning baan dus die weg vir die 25-jarige Witzenberger vir ’n goeie seisoen in die aanloop na vanjaar se Olimpiese Spele in Parys.
Wildschutt het in Julie verlede jaar reeds sy plek op die vlug na die Parys-Spele bespreek toe hy die Internasionale Olimpiese Komitee en Wêreldatletiek se vereiste kwalifiseringstyd van 13:05.00 behaal het.
Wildschutt hou ook die Suid-Afrikaanse rekords in die 3 000 m (7:39.25) en 10 000 m (27:23.10) – al drie sy beste tye voor Vrydagaand se vertoning nadat dié verlede jaar opgestel is.
’n Verheugde Wildschutt het ná sy toekenning in ’n Facebook-inskrywing gesê: “Nie oor ’n miljoen jaar sou ek my kon voorstel dat dit sou gebeur nie. Ek is aangewys as ASA se Manlike atleet van die Jaar (2023).
“Ek is nederig om hierdie wonderlike toekenning te ontvang, veral in ag genome die belaglike hoeveelheid talent wat ons in Suid-Afrika het. Ek wou my ontsaglike dankbaarheid aan Atletiek Suid-Afrika betoon vir hul geweldige bydrae om ons die geleenthede te bied om op die hoogste vlak te presteer.
“Ek het soveel mense om te bedank vir hul bydrae tot my ontwikkeling vroeër – van Moos Hartnick tot Tobias Philander, my kollege-afrigters en ook nou my professionele span. Ek wil God bedank vir Sy wonderlike genade!”


