“Lights will guide you home, and ignite your bones and I will try to fix you.”
Hierdie is ’n bekende lyn uit die liedjie “Fix you” van Coldplay, wat Carly Piater (17), ’n siggestremde, vir haar oudisie vir Die Kontrak bemeester het.
Die oudisies vir die nuwe seisoen van Die Kontrak, ’n realiteitsangkompetisie, begin eersdaags en Carly, ’n gr. 11-leerder aan die Worcester Gimnasium, het hiervoor ingeskryf.
Carly het in ’n telefoniese onderhoud gesê musiek is op haar jong ouderdom reeds deel van haar wese.
“Ek sing al vandat ek kan onthou. Ek het van jongs af gereeld gesing, of seker meer geblabber as enigiets anders,” het die laggende blondekop gesê.
Carly het op vyfjarige ouderdom die eerste keer op ’n klavier in haar tannie se huis begin tokkel, en van daar af het sy nie weer teruggekyk nie.
Sy het haarself tot op 13-jarige ouderdom geleer deur bekend te raak met die klawers en op gehoor gespeel.
Carly het in gr. 7 met klavierlesse begin en haar afrigter het haar destyds sommer dadelik vir die gr. 4-Trinity-musiekeksamen ingeskryf, waarvoor sy geleer het deur braille-bladmusiek te gebruik.
“Ek voel die eerste maat van die musiek se linker- en regterhandnote en speel dit dan apart. Dan beweeg ek aan na die tweede maat totdat ek die hele stuk vlot kan lees,” het Carly verduidelik.
Tans is sy besig om vir haar gr. 7-Trinity-praktiese- sowel as teoretiese musiekeksamen voor te berei.
“Ek het vir Die Kontrak ingeskryf, want ek wil graag sing vir ’n loopbaan,” het Carly, wat ook verskeie ander sangkompetisies in die sakkie het en só verdere ondervinding opgedoen het, gesê.
Hoekom dan “Fix you” as keuse vir die inskrywing?
“Dit ’n liedjie is waaraan ek en my sangafrigter reeds sedert 2021 skaaf en skuur en sodat ek dit uit my hart kan sing.”
Dié natuurlike musikant het ook bygevoeg dat sy Demi-lee Moore as haar mentor kies omdat sy ook ’n liefde vir country-musiek het, en daarby sal baatvind om by iemand te leer wat Die Kontrak voorheen gewen het en weet wat dit verg.
Volgens Carly vereis dit ’n bietjie meer aandag om as siggestremde klavier te speel, maar dit is glad nie onmoontlik nie en ook ’n uitdaging wat sy met ope arms aanvaar.


