Cariah van Zyl saam met haar pa, Albert, en haar ma, Chané.


Die Van Zyl-gesin van Worcester het ’n bietjie langer as ’n jaar gelede hul dogtertjie, Cariah, verwelkom. Cariah is ten spyte van dokters se Downsindroom-diagnose gesond gebore, maar wel met gehoorverlies.

Dit was ’n aanpassing, volgens Chané, Cariah se ma, maar wel ’n maklike een, “omdat dit ’n avontuur was wat deur die Here beplan is,” verduidelik Chané.

“Uitermatige gehoorverlies is op 15 September by my dogter gediagnoseer – net ná haar eerste verjaarsdag,” sê Chané.

“Ons het nooit besef iets is fout nie,” sê sy, en verduidelik nadat Cariah ’n pediater besoek en vir toetse in Kaapstad gegaan het, het die gesin die nuus gekry dat Cariah in albei ore doof is.

“Die pediater het eers gedink sy het dalk middeloor-ontsteking, omdat sy in daardie stadium siek was, maar die dokter wou seker maak en het ons na ’n oudioloog in die Kaap verwys.”

Tans beloop die mediese kostes, wat die kogleêre inplanting- en hospitaalkostes insluit, reeds R650 000 – ’n bedrag wat die Van Zyl-gesin se siekefonds nié dek nie.

Die kogleêre inplanting is reeds op 28 September gedoen en die aanskakeling van die apparaat – ’n gebeurtenis waaroor die Van Zyl-gesin baie opgewonde was – is gister (Woensdag 14 Desember) en vandag (Donderdag 15 Desember) by die Tygerberg-hospitaal gedoen.

“Hierdie week word die volgende fase van die kogleêre inplanting gedoen wanneer die apparaat aangeskakel word, wat beteken Cariah sal die eerste keer haar mamma en pappa se stemme hoor.”

Die apparaat gaan eers sag gestel word sodat Cariah gewoond kan raak aan die nuwe klanke, en sal daarna harder gestel word namate haar rehabilitasie dit moontlik maak. . Indien enige gemeenskapslid wil deel word van Cariah se reis deur nuwe klanke, kan geldelike skenkings gedoen word by Absa (tjekrekening) met die rekeningnommer 9374 1412 78 en jou naam of “anoniem” as verwysing.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article