Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) sê hy het oor die afgelope vyf jaar R785,7 miljoen aan die finansiering van skole vir kinders met spesiale onderwysbehoeftes bestee.
Verlede jaar het die departement ’n begrotingstoewysing van R172 miljoen vir dié soort skole gehad, 25% meer as wat in 2017 begroot is.
Spesiale skole is ’n noodsaaklike komponent in die verskaffing van onderwys aan die byna 20 000 kinders wat dit nodig het en benodig bykomende finansiering om dit moontlik te maak. Vir elke leerder wat ’n bepaalde leer-uitdaging het, ontvang sy/haar skool ’n toelaag wat in verhouding staan tot die soort gestremdheid wat hy/sy het.
Byvoorbeeld, terwyl ’n gewone openbare skool in 2021 vir elke leerder R1 466 ontvang het, sou ’n skool vir ’n leerder met epilepsie drie keer daardie bedrag ontvang het. In ’n geval waar ’n kind byvoorbeeld op die outisme-spektrum is, sal hul skool ’n toelaag van ses keer die gewone bedrag ontvang.
Dié syfers is bekend gemaak in ’n onlangse parlementêre antwoord, waarin die WKOD ook bevestig het dat die finansiering vir hierdie skole nie deur die nasionale regering voorsien word nie.
Die Wes-Kaapse parlementslid Deidré Baartman sê sy hoop die nasionale regering sal vanjaar by sy belofte hou om die formule wat bepaal wat elke provinsie kry, te hersien.
Sy sê die Wes-Kaap het hom beywer daarvoor dat hierdie kwessie aangepak word aangesien dit nie volhoubaar is vir die provinsie om die swaarste te dra oor swak geskrewe formules wat nie die werklike kwessies wat mense raak, in ag neem nie.
Voorts sê sy die Wes-Kaap het jare lank, as deel van sekere prosesse, versoeke ingedien dat finansiering vir spesiale behoefte-onderwys by die bepalende formule ingesluit moet word. Dit dra by tot die reeds ondergefinansierde mandate wat die provinsiale departement die afgelope paar jaar moes implementeer.
“Nietemin is die feit dat ons provinsie steeds in staat is om na hierdie leerders om te sien ’n bewys van sy verbintenis tot die verskaffing van gehalteonderwys aan elke leerder in elke klaskamer. Ons hoop dat ons nasionale eweknieë hierdie kwessie ernstig sal opneem en bewus sal wees van die behoeftes van leerders in die Wes-Kaap.”


