Sr. Cirene Williams neem die voortou in die Witzenberg vir inenting teen die Menslike Papilloomvirus. Foto:


Hoop op ’n beter toekoms is wat suster Cirene Williams aanspoor om gesondheidsdienste na soveel kinders moontlik te bring.

Onder haar leiding kon die Wes-Kaapse departement van gesondheid in die Witzenberg bykans 800 meisies gratis inent teen die virus wat lei tot servikale kanker.

Dié diens word twee keer per jaar gratis na skole gebring. Die Witzenberg-span kon hierdie ronde 88% van meisies, wat kwalifiseer vir inenting, bereik.

“Dit verg baie intensiewe voorbereidings,” verduidelik Williams. Met behulp van personeel by die skool is registers reeds voltooi waarin daar aangedui word wie se ouers toestemming gegee het vir die toediening van die entstof teen die Menslike Papilloomvirus (MPV). Sy het dan geskakel met ouers wat nié toestemming gegee het nie, om seker te maak dat hulle verstaan dat die entstof lewens red. Servikale kanker is een van die kankers wat die meeste lewens eis onder vroue tussen 35 en 44 jaar.

“Ek wil graag sien dat daar ’n drastiese afname is in die aantal vroue wat sterf weens servikale kanker. Dit is absoluut al die voorbereidings werd,” sê sy.

Iemand na aan haar het servikale kanker asook borskanker, en sy sê die impak van die siekte en die behandeling op die vrou se seun is hartverskeurend.

Sy is reeds sedert 2014 betrokke by die MPV-program en sien uit daarna om in die jare wat kom te kan sien wat die impak van die program is. Maar vir nou is dit genoeg vir haar om te weet dat hul span hul doelwit vir hierdie ronde bereik het.

In die Kaapse Wynland is ’n totaal van 6 568 MPV-inentings gedoen. Die Witzenberg het uitgeblink deurdat 88% van meisies wat kwalifiseer en wie se ouers toestemming gegee het ingeënt is, gevolg deur Drakenstein (75%), Stellenbosch (73%), en Breedevallei en Langeberg (69%).

Die departement bedank skole as vennote in die proses, ouers wat toestemming gegee het en personeel soos Williams, wat die diens moontlik maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article