Worcesteriete sou daarop let dat talle paaie in en om die dorp die afgelope tyd broodnodige aandag tydens die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) se herseëlprogram gekry het.
Talle strate en selfs parkeerruimtes is onlangs deur die BVM en sy onderskeie diensdepartemente opgeknap nadat hierdie prioriteite tydens die GOP (geïntegreede ontwikkelingsplan) deur inwoners gekommunikeer is.
Strate in Langerug, Distilleryweg, Baringstraat en selfs strate om Kerkplein is onlangs opgeknap, terwyl groot projekte soos die herbou en uitbreiding van Louis Langestraat aan die gang is.
Die parkeerruimtes rondom Kerkplein het ook ’n blinknuwe laag teer gekry, en hoewel talle dankbaar is hiervoor, het talle hul misnoeë uitgespreek.
“Daar is soveel ander strate in hierdie dorp wat aandag nodig het. Hoekom moet ’n parkeerterrein ten duurste opgeknap word as sommige paaie nie eens meer rybaar is nie?” het ’n inwoner van die dorp aan Standard gevra.
Die inwoner, wat op voorwaarde van anonimiteit met Standard gepraat het, het gesê hy kommunikeer ook in sy hoedanigheid as sake-eienaar gereeld met die BVM oor behoeftes in die dorp en hy het al selfs GOP-vergaderings bygewoon om sekere behoeftes aan te meld.
“Dit voel of net niks dan daaraan gedoen word nie.”
Ander inwoners het hulle tot sosiale media gewend om ’n pluimpie aan die BVM te gee.
“Dit is hoog tyd dat die paaie aandag kry. Dit is vandag Sondag (7 Mei) en die manne is op hul pos. Welgedaan julle,” skryf Kitty Williams.
Chad Malgas, ’n woordvoerder by die BVM en bestuurder van die GOP-proses, het aan Standard gesê hulle is verheug om uiteindelik hierdie opknapping in die dorp te kan doen.
Hy sê die parkeerterrein om Kerkplein het dringend opknapping nodig gehad.
“Ons het al aan heelwat paaie aandag gegee en nog ’n paar word beplan. Die parkeerterrein is al lank op die lys en dit was vodde. Dit sluit aan by ons GOP-proses. Dit is deel van die raad se langtermynverpligtinge ten opsigte van instandhouding, verbetering en ontwikkeling. ’n Behoefte word op die lys geplaas ná konsultasie met die gemeenskap; die raad besluit dan wat vorentoe gebeur en daarna word dit geprioritiseer in ooreenstemming met die begroting beskikbaar vir elke jaar,” verduidelik Malgas.
Hy voeg by ’n geregistreerde behoefte sal wel aandag geniet, maar alles hang af van goedkeuring en belyning met die begrotings.
“Dit is vir ons ook belangrik dat inwoners aktief aan hierdie prosesse deelneem. Dit help om die regte behoeftes op die lys te kry en dra by tot ons taak om dienslewering aan die gemeenskap te verseker.”





