Riool wat weens verstopte dreine in Riverview opgestoot het.Foto: Elridge Fredericks


Rioolprobleme by Rivierview in Worcester is ’n bekende onderwerp wat op vele inwoners se lippe verskyn en baie is reeds daaroor berig.

Die mees onlangse berig was in Mei 2022, waarin die uitdagings bespreek is wat die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) in die gesig staar asook oor die hulpkrete van moedelose inwoners van Riverview berig is.


Worcester Standard het intussen by die BVM gaan hoor wat beplan word om hierdie herhalende probleem die hoof te bied.


“Riverview is deel van die geidentifiseerde ‘hotspot’-gebiede [binne die Breedevallei-munisipaliteit],” het Chad Malgas, ’n woordvoerder van die BVM, gesê.

Die rede vir die verstoppings wat in die buurt voorkom, is ongewenste voorwerpe wat in die dreine geplaas word, het Malgas verduidelik.

“Dit sluit in koerantpapier, kledingstukkie, klippe, dooie diere en selfs in een geval ’n hele wasmasjien!”

Nog ’n rede vir verstopte dreine in Riverview is vandalisme van infrastruktuur, soos byvoorbeeld dreindeksels, sê Malgas.

“Verouderde pypstelsels en uitdagings weens die hoër vlakke van beurtkrag, wat die doeltreffendheid van pompstasies belemmer, lei tot riool wat in die netwerk terugstoot. Dit veroorsaak ook verstoppings,” het Malgas verduidelik.

Die BVM het ’n studie laat doen wat eerder na ’n permanente manier soek om die probleem op te los, en dit sluit in:. pypinspeksies deur kameras te gebruik,. die herstel van beskadigde pyplyne,. die opgradering van riool-pompstasies en. die aankoop van kragopwekkers vir gebruik by kritieke riool-pompstasies om onderbrekings weens beurtkrag uit te skakel.

Stappe wat reeds gedoen is, was om bykomende Jet Vac-voertuie aan te skaf om met die groot aanvraag te help.

Gereelde instandhoudingswerk kry voorkeur en BVM-spanne is op “high-alert” om rioolverstoppings op te los namate klagtes aangemeld word.

“Die realiteit is egter dat ons spanne en hulpbronne [van die BVM] vanweë die aantal klagtes taamlik onder druk is, dus kom ons nie altyd spoedig by ’n klagte uit nie,” volgens Malgas.

Jet Pac-voertuie is Maandag (30 Januarie) in Riverview ontplooi om sekere dreine in die gebied skoon te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article