Die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) het vandeesweek volledige terugvoer aan Standard verskaf rakende die dorpe se stormwaterstelsels en voortdurende uitdagings met riool in die streek.
Standard het laasweek berig oor inwoners van Rawsonville se klagtes met betrekking tot die munisipale voertuie wat snags soms tot laat in die woonbuurt se strate moet werk om rioolkwessies uit te sorteer. Talle het gemeen dit is ’n steurnis en dat die gevaarligte oor die toestand van die stelsel oor die algemeen begin flikker.
Chad Malgas van die BVM sê egter die munisipaliteit is tans besig om aandag aan die kwessie te skenk.
“ ’n Groot gedeelte van die hoof-rioolpyplyn in De Nova (Rawsonville) het gebreek, wat veroorsaak het dat riool nie doeltreffend gepomp kon word nie. Suigwaens is gebruik om die riool van die Greystraat-pompstasie na die rioolwerke te vervoer.”
Malgas verduidelik ’n kontrakteur is aangestel om die pyp te vervang en die pomp van riool na afloop van die herstelwerk oor te neem.
“Die kontrakteur sal teen volgende week die riool uit ’n mangat in De Nova na die rioolaanleg pomp, waarna die suigwaens uit Greystraat onttrek gaan word,” voeg Malgas by.
Talle uitdagings met betrekking tot riool word gereeld aangemeld en die BVM is bewus van klagtes wat gereeld instroom.
Verlede jaar is ’n maatskappy gekontrakteer om ondersoek na die stelsel in te stel.
Dit blyk die proses is nog aan die gang en die bevindings sal gebruik word om die munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) ter verbetering van die stelsel aan te vul.
Malgas sê die munisipaliteit reik gereeld kennisgewings uit om inwoners aan te moedig om nie vreemde voorwerpe in die stelsel weg te spoel nie en gee vandalisme die skuld.
Malgas meen egter goeie vordering is ten opsigte van die dorp se stormwaterstelsel gemaak.
“Hoewel sekere gebiede in die munisipale gebied oorstromings ervaar het (veral private eiendom), was ons redelik goed voorbereid om verlede week se storm te hanteer. Gewone klagtes met betrekking tot oorstromings was aan die orde van die dag. Ons het egter ongeveer twee weke gelede ’n winter-voorbereidingsprogram bekend gestel, wat hoofsaaklik op die skoonmaak van kern-stormwaterkanale gefokus het. Hierdie aksie het gewis vrugte afgewerp aangesien die klagtes en aangemelde skade aansienlik minder was in vergelyking met soortgelyke voorvalle in die verlede.”
Klagtes oor elektriese foute is egter uit drie gebiede aangemeld – onderskeidelik in Avianpark, De Doorns en Zwelethemba.
“Die bogenoemde gebiede se foute is ten volle herstel. Die Zwelethemba-omgewing se fout het ietwat langer geneem om te herstel weens die kompleksiteit van die herstelproses,” voeg Malgas by.
Malgas sê munisipale spanne is te alle tye op hoë gereedheidsgrondslag vir wanneer waarskuwings vir uiterste weerstoestande uitgereik word.
“Ons herinner inwoners om ons sosialemediakanale noukeurig te volg, aangesien waarskuwings te alle tye daarop gepubliseer sal word. Tydens uiterste weerstoestande beklemtoon ons dat inwoners moet ag slaan op die nodige waarskuwings en inligting ten einde veiligheid te bevorder, asook om alle noodnommers vir ’n noodgeval byderhand te hou. Na afloop van sulke voorvalle sal herstel- en opruimingswerk voorkeur kry.”
Malgas vra die publiek moet daarop let dat die omvang van skade en diensklagtes die bogenoemde proses kan vertraag. As sekere gebiede dringend aandag benodig, moedig die BVM die publiek aan om met die dienssteun-sentrum in verbinding te tree.
“Die rol van die gemeenskap is vir ons uiters waardevol in hierdie verband, aangesien dit ’n regstreekse bydrae tot die beperking van skade en/of lewensverlies kan lewer.”. Klagtes kan by 0860 12 12 12 of per e-pos by ssc@bvm.gov.za aangemeld word.

