Standard het in verlede week Donderdag se uitgawe (25 Mei) berig oor die Esselenparkstadion se netbalbane, wat volgens sportlui nie genoegsame instandhouding geniet nie.

Die koerant het navrae aan die Breederivier Munisipaliteit (BVM) gestuur, maar nie betyds voor druktyd terugvoer ontvang nie.

Hannelie Botha, ’n woordvoerder by die munisipaliteit, het nou die BVM se kant van die saak gestel, wat dus in hierdie week se uitgawe verskyn.

Volgens haar word weeklikse instandhoudingswerk aan die netbalbane gedoen, wat “skoonmaak, onkruid-verwydering en herstel van baanheinings” insluit.

Sy sê die munisipaliteit het in Mei krake op die netbalbane reggemaak, maar die oppervlaktes is nog nie geverf nie en die munisipaliteit wag nog daarvoor. Geen aanduiding is gegee wanneer die verfwerk gedoen sal wees nie.

“Die BVM se instandhoudingspan het die fasiliteit besoek om ’n toepaslike en kostedoeltreffende oplossing in hierdie verband te bepaal. Die verf van lyne sal in die nuwe finansiële tydperk voorkeur geniet in ooreenstemming met die terugvoer van [die munisipaliteit] se instandhoudingspan en die beskikbaarheid van geld vir instandhouding,” het Botha per e-pos gesê.

Die BVM het verder verduidelik hy dra geen kennis van klagtes oor die netbalbane van Mildred van der Ross, die voorsitter van die la-Bré netbaldistrik, wat sy glo sedert 2012 aangemeld het nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article