Die vullis wat die BVM-spanne dikwels uit die rioolpype haal.Foto:

Credit: SYSTEM

’n Ondersoekende studie is van stapel gestuur in die voortgesette rioolkwessies in die Breedevallei, luidens ’n verklaring van die munisipaliteit.

Dit volg nadat inwoners die afgelope jaar telkemale rou riool in die gesig gestaar het. Standard het ook talle kere berig oor die rioolkrisis in die dorp – meer onlangs oor die rioolprobleem wat inwoners van Roodewal vir drie weke ondervind het.

Volgens JP Myburg, die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) se kommunikasiebeampte, erken die munisipaliteit die feit dat rioolkwessies die afgelope paar jaar ’n nadelige en skadelike uitwerking op die gemeenskap gehad het. Hy voeg by dat hulle onlangs kundiges aangestel het om na lewensvatbare oplossings te kyk om hul spanne te help om die rioolstelsel op te gradeer en te verbeter.

Myburg sê met ’n ontwikkelende plaaslike ekonomie en meer individue wat na die Breedevallei stroom vir beter werk en die kans om in die streek te woon, is stelsels soos die rioolstelsel een van die mees geaffekteerde, delikate en veeleisende van almal.

“Ons is ook bewus daarvan hoewel baie mense uit ander dele van die land hier beter geleenthede soek, plaaslike inwoners elke dag om oorlewing stry, afwagtend op geleenthede, terwyl hul nadelig geraak word deur kwessies soos rioolverstoppings en die oorloop daarvan.”

Volgens hom reageer die stelsel op die wyse waarop dit doen as gevolg van die effek wat bevolkingsgroei en huishoudings op die stelsel het. Wanneer BVM-personeel elke dag aandag gee aan blokkasies, oorlope en verskeie kwessies rakende die stelsel, laat dit byna geen tyd om proaktief in hul benadering te wees nie.

“Nog ’n faktor sal sekerlik altyd vandalisme en die onvanpaste gebruik van die stelsel wees. Dit is nie ’n verskoning of ’n poging om die blaam te verskuif nie, maar ’n feitelike probleem wat ons spanne daagliks in die gesig staar. Ons probeer onsself nie verskoon nie, maar ons is almal inwoners van hierdie gemeenskap. Ons almal moet saamwerk om nie net oplossings te vind nie, maar ook respek vir infrastruktuur te hê en om ’n selfgeldende poging aan te wend om toe te sien dat hierdie stelsels toepaslik gebruik word.”

Volgens Myburg word klippe, papiere, bottels, persoonlike-higiëneprodukte, voedselafval en selfs plastiekkratte in die stelsel gestort en dit moet nie so wees nie. Hy voeg by dat dit altyd die grootste oorsaak van oorloop, lekkasies en storting sal wees en dat die stelsel net nie hierdie items kan hanteer nie. Myburg sê die BVM weet dat diefstal van dreinbedekkings ook ’n bydraende faktor is en dit sal vervang word waar moontlik.

“Ons het selfs ontelbare benaderings probeer om byvoorbeeld die bedekkings te beveilig deur dit vas te sweis, maar vandale vind ’n manier om hierdie bedekking te breek en te beskadig. Daarom vra ons altyd die gemeenskap om op die uitkyk te wees vir vandale en dit so gou as moontlik aan te meld. Vandalisme is ’n strafregtelike oortreding. Ons rioolspan werk dag en nag om aan verskeie kwessies in al die verskillende dorpe in die Breedevallei aandag te gee.

“Hulle moet in moeilike terrein werk en prioritiseer wat nodig is om gedoen te word. Sommige kwessies kan tot vier ure neem om te hanteer, terwyl sommige tot ’n dag of selfs langer kan neem – met plekke in verskillende streke en dele van die Breedevallei.”

Die BVM se knelpunte is geïdentifiseer, veral dié in Worcester, en die munisipaliteit sê hy probeer om aandag te gee aan versoeke op grond van wanneer die prioriteit of behoefte van die publiek se kant af aan hulle gekommunikeer word. Soms ontvang die munisipaliteit se spanne in sommige maande tussen 150 en 250 versoeke wat aandag vereis.

Hy voeg by dat die munisipaliteit onlangs eksterne ondersoekers en navorsers aangestel en goedgekeur het. Hulle moet ’n deeglike ondersoek en ontleding van die rioolstelsel doen deur vas te stel wat die huidige uitdagings is en watter moontlike oplossings en planne geïmplementeer kan word om die stelsel vir die toekoms te verbeter.

Myburg sê die BVM is vol vertroue en sal toesien dat die bevindinge vrugbaar en tot voordeel van verandering vir almal sal wees.

“Ons sal ’n volledige opdatering gee sodra die studie voltooi is, en hoop om die bevindinge die basis te maak van ’n aksieplan wat mettertyd geïmplementeer moet word.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article