Die winter is hier, en saam met dié ysige weer kom ook reën, wat gewoonlik die leiwaterkanale in Worcester laat vol loop.
Die frustrasie hiermee is egter dat dit só gou vol loop, dat damme en dikwels riviere water in die pad veroorsaak – veral in die middedorp.
Volgens Hannelie Botha, ’n woordvoerder van die Breedevallei-munisipaliteit (BVM), het die middedorp “baie bome en ander vorme van plantegroei”, wat plante-afval soos blare en takke bevat en in veral stormagtige toestande in die leiwaterkanale beland.
“Leiwater word elke Dinsdag en Donderdag van die Worcesterdam af verskaf, waar ’n span die lyn fisiek inspekteer en na blokkasies omsien namate dit geïdentifiseer word. Mense moet kennis neem dat afval in swaar reën (soos verlede week) in die leiwaterkanale beland en verstoppings by motorbrûe veroorsaak,” het Botha verduidelik.
Volgens haar is die BVM se winter-instandhoudingswerk tans aan die gang waar hulle daagliks op klagtes oor die leiwaterkanale reageer en daarby word verdere roetine-inspeksies elke Dinsdag en Donderdag uitgevoer.
Indien skade opgemerk word wat deur gure weer veroorsaak word, word die skade beoordeel en daarvolgens begroot.
“Die BVM het byvoorbeeld vloedskade aan die leiwater-infrastruktuur in Krigestraat gehad, wat deur ’n storm in die laaste deel van Maart 2023 veroorsaak is. Dit is onlangs suksesvol herstel en voltooi,” sê Botha, wat verduidelik het die begroting van leiwaterkanale se instandhoudingswerk kom uit die munisipaliteit se bedryfsbegroting en interne bedrywighede.
Die instandhouding van die leiwater-kanale is deel van ons bedryfsbegroting en interne bedrywighede.
As die publiek kommer oor spesifieke probleme het, doen die munisipaliteit ’n beroep op die publiek om dit by 0860 12 12 12 aan te meld sodat dit voorkeur kan kry om dringend aandag te kry.


