Verkeersbeamptes in die Stad Kaapstad het onlangs begin om ’n nuwe gewysigde verordening toe te pas.

Dit beteken verkeersbeamptes kan nou voertuie om verskeie redes skut. Dit sluit in die roekelose bestuur van voertuie, onwettige straatrenne, stukkende ligte, onpadwaardigheid, dronkbestuur, bestuur onder die invloed van dwelms en wanneer ’n bestuurder van ’n voertuig nie stilhou wanneer ’n verkeersbeampte so aandui nie.

Standard het navraag gedoen by die Breedevallei-munisipaliteit om uit te vind of hulle dieselfde wette op plaaslike paaie gaan toepas.

“Tans het hierdie slegs betrekking op die Stad Kaapstad, want dit is ’n munisipale verordening wat deur die Stad Kaapstad se landdroshof goedgekeur is,” sê Hannelie Botha, ’n woordvoerder van die munisipaliteit.

Sy voeg by dat hulle wel planne het. “Die BVM is wel besig om te kyk na soortgelyke verkeersverordeninge vir ons eie munisipaliteit.”

Sy het egter nie uitgebrei oor wat die nuwe plaaslike verordening sal behels of watter spesifieke oortredings daartoe sal lei dat voertuie geskut word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article