Ten einde misdaad in die breër Worcester-gemeenskap meer doeltreffend te bekamp, moet die struktuur van die Worcester Neighbourhood Crime Watch uitgebrei word.
Openbare betrokkenheid is om dié rede van kardinale belang.
So het AO Julian Plaatjies, bevelvoerder van Sektor 4 in Worcester, Saterdagaand aan Standard gesê kort voor dapper lede van die buurtwag, die polisie, plaaslike sekuriteitsmaatskappye en brandweerdienste die strate ingevaar en met ’n bewusmakingsveldtog begin het om dit onder die publiek se aandag te bring dat daar ’n gestruktureerde buurtwag is en dat hulle daarby betrokke moet begin raak.
Plaatjies het gesê hy verkies om eerder na die bewusmakingsveldtog as ’n bemarkingstrategie te verwys.
Volgens Plaatjies is die Worcester Neighbourhood Crime Watch geregistreer by die departement van gemeenskapsveiligheid.
Sektor 4 sluit in Somersetpark, Worcester-Wes, Golden Valley Casino, Mall Mews, Mountain Mill Mall, Hospitaalheuwel, Bergsig, Tuindorp, Fairyglen, Reuniepark, Rouxpark, Van Riebeeckpark, Panorama, Fairway Heights en Meiringspark.
Plaatjies sê misdade soos huisbrake en diefstal vanuit motorvoertuie vind veral in dié woonbuurte plaas.
Volgens hom kan die polisie eenvoudig nie oral wees nie.
Hy sê dit is hoekom buurtwagte en sekuriteitsmaatskappye – wat almal deel vorm van die misdaadvoorkomingstrategie – mekaar in dié verband aan die hand moet vat.
Plaatjies sê ’n proses is reeds aan die gang om nog buurtwaglede te werf.
Hy sê namate die buurtwag se lidmaatskap toeneem, kan die Worcester Neighbourhood Crime Watch sy werksaamhede na meer buurte in Worcester uitbrei.
Volgens hom is relevante rolspelers reeds besig met ’n plan om meer sigbaarheid met betrekking tot patrolliewerk in die sentrale sakekern van Worcester te bewerkstellig, veral vir wanneer salarisse en maatskaplike toelaes uitbetaal word.
Plaatjies sê rowe en diefstal vanuit motorvoertuie is algemeen in die sentrale sakekern – ook bekend as sektor 3.
Volgens hom is misdaad tydens beurtkrag oral in Worcester ’n uitdaging. Hy sê sodra beurtkrag inskop, vind diefstal van veral nie-ysterhoudende metaal soos koperkabels plaas.
Volgens Plaatjies was daar al baie voorvalle waar booswigte die hoofkragtoevoer tydens beurtkrag veral by ligpale met skerp voorwerpe afsny omdat daar in daardie stadium nie krag op die betrokke lyn is nie.
Hy sê dit is die uitdaging waarmee wetstoepassers tans sit.
Volgens hom was daar nietemin ’n afname in die diefstal van nie-ysterhoudende metaal in sektor 4.
Plaatjies sê sodra buurtwag-strukture uitgebrei word, gaan die stryd teen misdaad beslis gewen word.
Daar is ook streng beheer rondom wie tot die Worcester Neighbourhood Crime Watch se WhatsApp-groep gevoeg word en wie nie, volgens Plaatjies.
Hy verduidelik dat streng reëls geld vir diegene op die betrokke WhatsApp-groep, en sê diegene wat die reëls oortree, word summier van die groep verwyder.
Plaatjies sê alhoewel daar soms uitdagende gevalle is, is dit baie maklik vir hulle om beheer oor die WhatsApp-groep uit te oefen.
Hy het dié versekering gegee in die lig van die feit dat daar inwoners is wat om veiligheidsredes nie betrokke wil raak by buurtwagte nie en ook nie noodsaaklike inligting op die betrokke WhatsApp-groep wil deurgee nie.
Plaatjies sê indien inwoners van sektor 4 iets verdags opmerk, kan hulle selfs ’n boodskap aan die admin-groep stuur en dié inligting sal dan opgevolg word.
Indien die polisie in daardie stadium nie onmiddellik beskikbaar is nie, sal hulle die buurtwag vra om na die betrokke toneel te gaan om waar te neem.
Volgens Plaatjies moet die lede dit wat hulle waarneem self ontleed en onmiddellik by die polisie aanmeld.
Hy sê dit is baie belangrik dat buurtwaglede moet waarneem, ontleed en aanmeld, juis omdat die polisie nie wil hê buurtwaglede moet hul lewe in gevaar stel nie.
Volgens hom bly die polisie egter die eerste linie van aanmelding.
Vir meer inligting bel Plaatjies by 082 522 0963.




