Die raadslid Julian Kritzinger (middel) saam met die dapper lede van die Worcester Neighbourhood Crime Watch tydens Saterdag se verrigtinge.Foto: Enrico Claassen


Die Worcester Neighbourhood Crime Watch het Saterdag (24 Februarie) sy eerste verjaardag gevier.

Hoewel die buurtwag nog in sy kinderskoene staan, pronk hy reeds met meer as 800 lede en heelwat suksesse.

Benewens die smullekker etes Saterdag en die samesyn, is die spesiale dag ook met ’n massapatrollie deur Worcester se strate gevier.

Inwoners van Reüniepark, Rouxpark, Meiringspark, Paglande, Middedorp, Langerug, Somersetpark, Hospitaalpark, Hospitaalheuwel, Altona, Worcester-Wes, Leightonpark, Fairway Heights, Panorama, Van Riebeeckpark, Fairy Glen en Bergsig het die buurtwag tydens die massapatrollie toegejuig en die lede vir hul vrywillige gemeenskapsdiens die afgelope jaar bedank.

Dr. Julian Kritzinger, die raadslid vir wyk 7, sê aan Standard & Breederivier Gazette die buurtwag het sedert sy ontstaan ’n jaar gelede tot altesame 850 lede gegroei.

Hy sê hoogtepunte die afgelope jaar sluit in bystand deur die buurtwag aan die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) se eenheid teen grondbesetting met betrekking tot die verwydering van onwettige plakkers, asook ’n veldtog om dromkrappers se onwettige gebruik van wieldromme en winkeltrollies te bekamp.

Nog ’n hoogtepunt sluit in die inwerkingstelling van ’n nood-WhatsApp-groep vir lede.

Volgens Kritzinger dien dié WhatsApp-groep as ’n koördineringsplatform waar inwoners die verskillende veiligheidsmaatskappye en Worcester Neighbourhood Crime Watch-patrollielede misdaadinligting uitruil om booswigte vas te trek.

Hy sê verskeie booswigte is die afgelope jaar op dié manier vasgetrek.

Volgens Kritzinger word die buurtwag deur ’n “formidabele vroue-bestuurspan” gelei.

Volgens hom is die voorsitter, Diana Murray, “iemand wat welbekend is daarvoor dat sy nie nonsens duld nie” en “aan wie se verkeerde kant ’n mens definitief nie wil kom nie”, terwyl die skakelbeampte, Tiana Botes, “iemand is wat teen-misdaadoperasies en geleenthede met die uiterste militêre detail en presisie kan reël”.

“Afgesien van hul dinamiese leierskap-duo is die Worcester Neighbourhood Crime Watch ook die enigste buurtwag wat die polisie se ‘blue dot’-status het, en hiermee saam het hulle ’n uitmuntende samewerkingsverhouding met die polisie, plaaslike veiligheidsmaatskappye en die BVM. “Lidmaatskap van die buurtwag is gratis. . Bel Murray by 072 971 5302 vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article