Die jaarlikse massapatrollie van die AfriForum-Worcester-buurtwag was weer eens ’n groot sukses, met loeiende sirenes, toeters wat blaas en flitsende veiligheidsligte wat die aand helder en veiliger gemaak het.
Die patrollie het met ’n indrukwekkende 75 inwoners begin, wat in 35 voertuie ’n lang konvooi gevorm het. Hierdie konvooi, wat so lank soos Rabielaan van die N1 tot by Governorstraat in Somersetpark gestrek het, het ’n roete van 50 km deur Worcester se woonbuurte gevolg.
Die patrollie het by De la Bat-swembad begin en deur 17 woonbuurte beweeg, insluitend Reüniepark, Rouxpark, Meiringspark, Van Riebeeckpark en Panorama, en het onder meer ook Brandwacht, Somersetpark en Fairy Glen besoek. Die hele roete is in twee en ’n half uur voltooi.
Lede van die Breede Valley Farm Watch en Worcester Neighbourhood Crime Watch het ook by die massapatrollie aangesluit, wat ’n verenigde front teen misdaad getoon het.
Die patrollie is verder ondersteun deur die plaaslike polisie, Capital Security, Fidelity ADT en LTS Security. ’n Spesiale oomblik vir die kinders was toe die Breedevallei-munisipaliteit se brandweer by die konvooi aangesluit het.
Sluit aan by AfriForum-Worcester Buurtwag
AfriForum-Worcester se buurtwag is aktief in gebiede soos Meiringspark, Panorama en Rouxpark. Lidmaatskap beloop ’n minimum van R50 per maand, en bied verskeie voordele vir lede.
Hoe groter die buurtwag, hoe minder misdaad in die omgewing. Die AfriForum-Worcester-Buurtwag het weer eens bewys betrokkenheid is die sleutel tot ’n veiliger gemeenskap.
“Baie dankie aan al die lede vir hul harde werk en die suksesvolle massapatrollie,” sê die bestuur.
. Belangstellendes kan Jacoba Bradbury by 074 751 0569 kontak om by die buurtwag aan te sluit.




