Standard het gaan aanklop by ’n paar buurt- en plaaswagte in die Breedevallei- en Witzenbergstreek om te hoor wat die fokuspunte en uitdagings van hierdie organisasies sonder winsbejag is.

Hexvallei-plaaswag

Volgens Deon Joubert, bestuurder van die Hexvallei-plaaswag wat die hele Hexvallei dien, verg dit harde werk om die vallei veilig te hou.

Joubert verduidelik dat die plaaswag nie tans meer misdaad opmerk nie, maar beslis meer aktiwiteite, wat insluit mense wat rondloop tussen plaasgebiede en huise, maar wat vinnig opgevolg word om misdaad te voorkom.

Volgens hom het elke seisoen spesifieke misdaad wat daarmee saam- gaan, en tans ervaar die plaaswag sy jaarlikse druiwe-diefstalle, en verkope langs die N1, asook die steel van batterye uit trekkers en vragmotors, kabeldiefstal en geweld tydens naweke, saam met alkoholgebruik.

Nogtans, verduidelik Joubert, is dit ’n stil seisoen.

Volgens hom vaar die plaaswag goed en het ’n aktiewe lidmaatskap en patrolleerders, maar kan altyd doen met ’n bietjie ekstra.

Meer finansiering of lede sal beteken dat die plaaswag kan groei en hul toerusting, wat bestaan uit onder meer kameras, voertuie, radio’s, ander kommunikasie-platforms en die beheerkamer, kan uitbrei om beter veiligheid te bewerkstellig.

Bheki Cele, die minister van polisie, het in sy onlangse begrotingsrede vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens gesê dat daar geen hulpbronne of finansiering beskikbaar gemaak gaan word vir buurt- en plaaswagte nie, wat vele lede ontstel het.

In reaksie op dié toespraak sê Joubert dat die plaaswag nie op ander entiteite steun vir finansiële bydraes nie, en eerder self sien en kom klaar.

“Indien ons iets van die departement ontvang, is ons dankbaar, maar ons maak nie daarop staat nie.”

Wolseley-buurtwag

Volgens Elanza Basson, voorsitter van Wolseley se buurtwag in die middedorp, ervaar die buurtwag tans koperdiefstal waar oortreders veral koperkrane steel.

Nog uitdagings sluit in werkloosheid, en ongeletterdheid wat tot misdaad bydra.

Basson het ook telefonies aan Standard gesê dat nog ’n uitdaging van dié buurtwag ’n tekort aan brandstof vir patrollie-lede insluit.

Sy verduidelik dat meer as 200 lede deel vorm van die buurtwag, maar dat nie almal bereid is om patrollie te ry nie, en dié wat wel in die strate rondry van hul eie geld moet opdok vir brandstof weens ’n tekort aan finansiering daarvoor.

Volgens haar wil die buurtwag ook straatkameras laat installeer en met ’n app (applikasie) op hul foon monitor, en doen ’n beroep op die Wolseley-gemeenskap om daarmee te help.

Worcester buurt- en misdaadwag

Diana Murray van die Worcester buurt- en misdaadwag, wat in meeste woongebiede in die dorp gratis patrolleer, verduidelik dat dié buurtwag se uitdagings “algemeen” is, maar sluit veral in diefstal in sektor vier (Meiringspark, Rouxpark, Reüniepark, Fairy Glen, Bergsig, Hospitaalheuwel, Hospitaalpark, Van Riebeeckpark, Panorama, Fairy Heights, Paglande,Worcester Wes, COD en Somersetpark), asook huisbrake.

“[Die Worcester buurt- en misdaadwag] se prioriteitsmisdade is eiendomverwante misdaad,” volgens Murray, wat ook verduidelik dat die buurtwag op meer sigbaarheid tydens beurtkrag fokus, wanneer dit donker is en meer geleenthede geskep word vir boewe om rond te sluip.

Sy verduidelik ook dat dit gratis is om aan die buurtwag te behoort, en dat ledetalle daagliks groei, wat dié buurtwag reeds een van die grootstes in Worcester maak.

Volgens Murray is die Worcester buurt- en misdaadwag heeltemal afhanklik van donasies, en ontvang ook finansiële bydraes van die plaaslike departement van gemeenskapsveiligheid.

Die verskil tussen ’n buurtwag en plaaswag

’n Buurtwag is ’n groep inwoners wat – ook vrywillig – misdaad in hul gemeenskap bestry en die oë en ore van die plaaslike polisie en gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) is.

’n Buurtwag sal dan met die GPF kommunikeer, terwyl die GPF met die plaaslike polisie sal kommunikeer om inwoners en veiligheidsgroepe se bekommernisse aan te pak.

’n Plaaswag, daarenteen, beskerm plase in landelike gebiede om vee- of oesdiefstal te voorkom, asook ander diefstal, soos die steel van koper of batterye. Dit is ook ’n plaaswag se verantwoordelikheid om veiligheid te bewerkstellig by plaashuise en arbeidershuise.

Die plaaswag rapporteer aan, en steun ook op die plaaslike polisiekantoor, en maak staat op plaaseienaars vir maandelikse diensfooie, asook patrolleerders wat vrywillig of vir ’n klein salaris patrollies uitvoer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article