Die pogings van ’n ouma om die reg te bekom om haar kleinkind se wettige voog te wees, beweeg teen ’n slakkepas, en nou stel dit die kind se gesondheid in gevaar.
Jolanda Botes, wat haar driejarige kleinkind versorg, mag egter byvoorbeeld nie die meisietjie se tande laat trek nie, omdat sy nie die wettige voog is nie, en nou ly die kindjie daaronder.
Botes het haar driejarige kleinkind in Junie verlede jaar ingeneem nadat die meisie daagliks tussen Worcester en Ashton saam met haar pa geryloop het.
Voordat sy die kind ingeneem het, het die kind by haar ma gewoon, maar weens omstandighede moes die kind oorgeplaas word na haar toe.
“Ek het aanvanklik nie ’n probleem gehad om die kind in te neem nie, want dit is mos immers my kleinkind,” sê Botes.
Volgens Botes is die kind net vir drie maande deur ’n maatskaplike werker van Kindersorg in haar sorg geplaas.
Vandat haar kleinkind by haar woon, is die Sassa-toelae wat aan haar (die kind) se versorger toegeken word, gevries omdat sy (Botes) ’n salaris verdien.
Die maatskaplike werker het Botes weer genader en gevra of die kind dalk langer by haar kan bly, en sy het ingestem.
“Ek het ook navraag gedoen oor hoekom die Sassa-toelae gevries is, want my salaris gaan nie genoeg wees om nog iemand te voed nie,” verduidelik Botes.
Die kind se gesondheid het ook intussen agteruitgegaan, want volgens haar ouma is haar tandjies vrot, wat maagpyn veroorsaak. “Sy is drie jaar oud en sy moet soms weggooidoeke gebruik, so erg loop haar maag. Die tandjies moet getrek word en ek kry nêrens hulp nie. Dit moet onder narkose gedoen word, en omdat ek nie die wettige voog is nie, kan ek nie toestemming gee dat dit gedoen word nie.”
Die kind moet ook by ’n skool geregistreer word, maar nie voordat Botes haar wettige voog is nie.
“Ek weet nie meer watter kant toe nie. ’n Jaar is al verby en ek sukkel steeds met die situasie. Ek wil weet hoekom die proses so lank vat. Ek is bang iets gebeur met die kind en dit kom uit dat ek nie haar wettige voog is nie – hoe maak ek dan?” het sy moedeloos gevra.
Alicia Prins, ’n bestuurder by Kindersorg, sê die proses om ’n kind in pleegsorg te plaas, hang af van die inligting wat bymekaargemaak moet word en die mense betrokke. “Wanneer die maatskaplike werker ’n hofsaak geopen het, het hy of sy 90 dae om ’n verslag te skryf en die kind in pleegsorg te plaas. Dit kan ook gebeur dat die situasie verander en nuwe inligting ingesamel moet word.”
In Botes se geval, waar die Sassa- toelae gevries is, sal sy – sodra die kind amptelik in haar sorg geplaas is – om ’n pleegtoelae aansoek kan doen.
Rakende die kind se gesondheid het Prins gesê net die kind se biologiese ouers mag toestemming gee vir mediese prosedures.



