Die burgemeester van die Breedevallei, Antoinette Steyn, doen ’n beroep op Nersa om sy tariefverhoging terug te trek.

Credit: SYSTEM

Die uitvoerende burgemeester van die Breedevallei-munisipaliteit (BVM), Antoinette Steyn, het ’n ope brief geskryf waarin sy beswaar maak teen die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se besluit op ’n tariefverhoging.

Nersa het verlede week aangekondig dat hy Eskom se versoek om ’n tariefverhoging goedgekeur het. Eskom het aanvanklik vir ’n 30%-verhoging gevra, maar ’n styging van 18,65% is toegestaan.

“As burgemeester van die BVM en namens alle kiesers wat binne die grense van ons pragtige Vallei woon en werk, voeg ek ons gesamentlike oproep by vir die onmiddellike herroeping van die tariefverhoging wat deur Nersa aan Eskom toegestaan is,” lui die skrywe.

Steyn brei ook verder uit oor die verwoestende sosiaal-ekonomiese impak wat die Covid-19-pandemie op inwoners gehad het.

“Hiermee saam is Eskom geteister deur toenemende vlakke van verval in sy bestuurs- en bedryfsvermoë, wat daartoe lei dat meedoënlose en onmenslike vlakke van beurtkrag oor die land heen geïmplementeer word.”

Hierdie verskynsel het volgens Steyn die positiewe vordering wat in die munisipaliteit se post-Covid- sosiaal-ekonomiese herstelproses gemaak is, uitgewis. Sy verduidelik ook dat dit verder ’n verwoestende impak op die geesteswelstand en gesondheid van alle inwoners en aspekte reg deur die samelewing het, aangesien elektrisiteit, onder sekere fases van beurtkrag, vir agt tot twaalf uur per dag nie beskikbaar is nie.

“Die regering – nog belangriker die plaaslike regering wat op grondvlak dien – dra die swaarste aan hierdie ongunstige eksogene toestande. Ons ervaar gevolglik toenemende ongelykheid tussen ons beskikbare hulpbronnepoel en die gemeenskap se eise en verwagtinge. Sou hierdie tariefverhoging gehandhaaf word, is die ongelukkige werklikheid dat munisipaliteite dit in sy komende tariefstruktuur sal moet absorbeer en dit uiteindelik aan verbruikers sal moet deurgee. Die kwesbares en behoeftiges sal ongelukkig die hardste getref word.

“Effektief sal die tariefverhoging verlammende druk op die sosiaal-ekonomiese ruggraat van die samelewing uitoefen en onherroeplike gevolge inhou.

“Ons herhaal en smeek dus dat die tariefverhoging van 18,65% herroep en herbereken word in ooreenstemming met die inflasionêre riglyne om die las vir die burgerlike samelewing te verminder.”

Steyn hoop om saam met ander rolspelers en burgemeesters van die land ’n wesenlike impak te hê met hierdie soort skrywes om sodoende die gemeenskap by te staan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article