Burgemeester se ampsketting beland ‘by kriminele in KwaZulu-Natal’

Hennie Smit, die burgemeester van die Witzenberg-munisipaliteit, met die nuwe ampsketting.


  • Berig is bygewerk om die Witzenberg-munisipaliteit se kommentaar te reflekteer

n Klag is vandeesweek by die polisie ingedien nadat die burgemeester se ampsketting van die Witzenberg-munisipaliteit na bewering “weggeraak of gesteel is” en glo in KwaZulu Natal opgeëindig het.

Nou beweer die Good-party die munisipaliteit het die verdwyning van die ketting “toegesmeer” en stil-stil ’n nuwe ketting aangekoop. Good sê die ketting het eintlik reeds ’n jaar gelede weggeraak en dit is stil gehou.

Die munisipaliteit ontken hiherdie aantygings ten sterkste.

Good het ook aan die LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, geskryf en hom gevra om die saak dringend te ondersoek en toepaslike stappe te neem.

Shaun August, Good-parlementslid, sê die Witzenberg se eerste burger se ampsketting is reeds ‘n jaar gelede weg, maar om onbekende redes is die saak eers vandeesweek by die polisie aangemeld.

August sê “mense na aan die saak” het hulle van die omstandighede in kennis gestel.

Daar word verder beweer dat die ketting die laaste keer wat dit by die munisipaliteit was, uitgeboek is sonder dat behoorlike prosedure gevolg is. Hierna het dit glo “in kriminele hande in KwaZulu-Natal beland”.

August sê dit is nog nie duidelik of die korrekte verkrygingsprosesse gevolg is tydens die aankoop van die nuwe ketting nie, gegewe die hoë waarde daarvan.

“Hierdie ernstige bewerings laat vrae ontstaan oor hoekom die saak nie onmiddellik by die polisie aangemeld is nie, en oor die Raad se algehele bestuur van die kwessie,” sê August.

Die Witzenberg-munisipaliteit se kommentaar

David Nasson, Witzenberg se munisipale besrtuurder, reageer as volg op die navrae:

Daar kan
nie met presiesheid bepaal word wanneer die ketting misplaas, gesteel of verlore geraak
het nie. Ongeveer ‘n maand gelede het dit vorendag gekom dat dit in Durban
verkoop is. Die verantwoordelike bestuurder het sonder sukses gepoog om ‘n
verklaring van die ooggetuie te bekom en het ‘n afspraak met die ooggetuie
en Munisipale Bestuurder gemaak. ‘n Saak is op advies by die polisie aanhangig
gemaak.

Voordat dit weggeraak het, het die
relevante bestuurder die ketting aan die vorige uitvoerende burgemeester
vir ‘n amptelike funksie oorhandig. Die
aangeleentheid rondom die ketting is tans onderhewig aan ‘n kriminele ondersoek
en die munisipaliteit verkies om dit nie vooruit te loop nie. Die munisipaliteit kan ook nie kommentaar lewer oor waar die ketting moontlik kan
wees nie.

 Daar is
enigsins geen toesmeerdery ter sprake nie en die regte prosesse met betrekking tot die Raad se verkrygingsbeleid is gevolg.

Die nuwe
ketting is teen ‘n bedrag van R29 950 aangekoop.  

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article