Baie aksie kan die naweek verwag word by die Wynland-ovaalbaankampioenskap in Worcester. Foto: Argiewe


Die 58ste jaarlikse Wynland-ovaalbaankampioenskap vind hierdie naweek (22 en 23 Maart) op die Mega-ovaalbaan in Worcester plaas.

Tot op datum het 121 deelnemers van oor Suid-Afrika heen hulle vir die byeenkoms ingeskryf. Die geleentheid is een van die oudste van sy soort in die land en word altyd goed deur die deelnemers sowel as toeskouers ondersteun.

Die byeenkoms begin Vrydagaand met twee uitdunrondes vir al die klasse.

Saterdag word dit voortgesit met ’n verdere twee uitdunrondes, waarna die eindronde aan die beurt kom en die 2024-kampioene gekroon sal word.

Plaaslike jaers gaan behoorlik beproef word met jaers van George, Oudtshoorn, Kathu, Bloemfontein, Rustenburg, Ellisras en Weskus wat kom deelneem.

Name wat welbekend in die sport is, sluit Carlo van Zyl (Bloemfontein), Dawie Lombaard (Kathu) Leon en André Fouche, Burger van der Westhuizen, Hendrickus Botha, Coenie Meyer en Leno Muller in – almal van Oudtshoorn en die George-motorklub, sowel as Karl Voppichler, Hannes van Niekerk, Riaan Jacobs en Bernard Wessels. Mike du Toit verteenwoordig Rustenburg Platinum Raceway, terwyl Jaques van Niekerk al die pad van Ellisras af kom.

Die immergewilde V8 Sprint Cars is ook deel van die program met sewe inskrywings. Die meeste van dié jaers kom van Stilbaai af en dis veral die veteraan Kenny Gouws wat dopgehou kan word. Die nuweling Ehrard Visagie en die ervare midget-jaer Graham Parkins is die ander gunstelinge in die klas.

Met heelwat huidige en voormalige SA kampioene onder die inskrywings, gaan dit gewis ’n aksievolle naweek van ovaalbaanrenne wees.

Die hekke open Vrydag om 16:00 en renne begin om 18:30. Saterdag begin die renne om 16:00.

Kaartjies is by die hekke te koop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article