Talle Worcesteriete het Maandagoggend ’n narigheid ervaar toe hul kraanwater bruin uit die krane geloop het.
Die Breederivier-munisipaliteit het verduidelik ’n meganiese fout van ’n rotorklep is Sondag (3 September) by Stettynskloofdam ervaar.
“Die klep het in die oop-posisie vasgeslaan en die stelsel is in die proses oorstroom. Die hoë volumes water het sommige sedimente en neerslae in die stelsel en ou pype opgelig.
“Dit het veroorsaak dat bruin water met swart neerslae in die drinkwater sigbaar is.”
Die BVM is nog besig om brandkrane te skuur en die stelsel en reservoirs te spoel om die bruin water skoon te maak en van die swart vaste stowwe ontslae te raak.
Die water word ontsmet en versterker-chlorinasie word ook by reservoirs gevoeg. Inwoners kan dalk vir die volgende paar dae ’n chloor-reuk en -smaak ervaar terwyl die munisipaliteit daaraan werk om al die afsettings uit die stelsel te spoel.
Die BVM het wel gesê die water is veilig om te drink.
“Die BVM toets voortdurend die water en het die chloorkonsentrasie in die reservoirs met die hand verhoog. Die water was heeltyd gechloreer.
“Dit was net baie hoë volumes wat deur die opheffing van sedimente gegaan het, maar is die hele tyd gechlorineer.
“Die voorsiening van veilige drinkwater aan ons inwoners is vir die BVM van die uiterste belang en ons sal alles in ons vermoë doen om dit altyd te verseker. Ons is immers ook inwoners hier en drink dieselfde water.”




