Die minister Tertuis Simmers en die burgemeester, Schalk van Eeden, saam met ’n kontrakteur by die McGregor-brug. Foto:


Dit is meer as week sedert die brug by McGregor as gevolg van swaar reën meegegee het en die dorp grootliks afgesny gelaat het van die res van die wêreld.

Talle ander paaie in die Breedevallei en Langeberg is ook erg deur die swaar reën beskadig en dit het daartoe gelei dat paaie vir talle ure en selfs dae as gevolg hiervan gesluit was, maar niks so erg soos in die geval van McGregor nie.

Sedert die brug se ineenstorting is die meeste van die dorp se inwoners van die res van die Langeberg afgesny. ’n Alternatiewe roete was beskikbaar om die dorp te verlaat, maar dit was nie baie toeganklik vir kleiner voertuie nie. Volgens opdaterings is dit egter nou toeganklik vir kleiner voertuie. Vroeër hierdie week is ook met herstelwerk aan die Keisershofbrug begin.

Volgens die munisipaliteit werk hy, tesame met distriks- en provinsiale departemente, aan die herstel van die beskadigde paaie.

Tertuis Simmers, die provinsiale minister van infrastruktuur, het die McGregor-brug Maandag besoek. Die Langeberg se burgemeester, Schalk van Eeden, het by hom aangesluit.

Volgens ’n mediaverklaring, wat deur Simmers se kantoor uitgereik is, sal die brug teen die einde van Oktober ten volle herstel wees.

“Hierdie vloed het ongetwyfeld ’n verwoestende impak op ons provinsie se infrastruktuur gehad. Let veral daarop dat baie van die McGregor-gemeenskap van Robertson afgesny gelaat is. Ná my besoeke vandag en kontak met my eweknieë by plaaslike regering, kan inwoners egter verseker wees dat hulle sommer gou sal sien hoe padnetwerke onder die vaandel van die Wes-Kaapse regering herbou en vir openbare gebruik heropen word. Ek deel graag met die uitvoerende burgemeester van die Langeberg en inwoners dat ons kontrakteurs voor die einde van die maand die herkonstruksie van die brug voltooi sal hê,” lui ’n paragraaf uit die verklaring.

Verder sê Van Eeden in die verklaring hy is opgewonde oor hierdie nuus.

“Ek is opgewonde om te verneem dat ons boere en gemeenskappe so gou toegang tot die brug sal kan kry. Dit het ’n verwoestende invloed op ons plaaslike ekonomie gehad, veral ons landbousektor. Dit sal tot groot verligting vir die groter McGregor-gemeenskap wees en dit is nuus wat deur die boere verwelkom sal word.”

’n Inwoner van McGregor vertel hoe moeilik dit was om die afgelope dae sonder die brug klaar te kom. ’n Ander roete na Robertson was egter beskikbaar, maar dit was nie juis toeganklik en geskik vir kleiner voertuie nie. ’n Foto het ook die ronde gedoen waarop mense sommer ’n leer gebruik het om oor die stukkende brug te kom.

Volgens een van die inwoners van die dorp was petrol vir lank nie in die dorp beskikbaar nie.

“Ek dink petrol is vandag (Dinsdag) afgelewer. Daar was ook nie geld in die OTM’s nie en die winkels se rakke het nou begin leeg raak. Dit was nogal moeilik die week,” het die inwoner verduidelik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article