’n Gesin van Spokiesdorp in Rawsonville is dankbaar nadat mense in die gemeenskap gehelp het om ’n brand, wat waarskynlik hul besittings in puin sou laat, te stuit.
Die Roberto-gesin het op Donderdag 15 September omstreeks 22:00 besef ’n deel van hul huis het aan die brand geslaan.
Pa Jonty het vroeër die aand ’n stuk wors buite gebraai en dié vuur toe gebruik om hul gesin teen die koue te staal.
Hy het die vuur omstreeks 21:00 geblus en die gesin het hulle in die huis tuisgemaak.
“Toe ek weer sien, is daar net rook en ek ruik iets wat brand. My vrou was in die kamer saam met ons dogtertjie, en ek het hulle geroep om uit die huis te kom. Ek is dadelik buite toe en het gesien die buurman en sy broer het elkeen met ’n emmer water gehardloop om die vlamme te help blus.”
Jonty sê sy buurmanne het die vlamme gesien en dadelik opgetree. Dit blyk die vuur was nie behoorlik geblus nie en die braaier het weens sterk wind omgeval en ’n ou leunstoel wat buite gestaan het, laat vlamvat.
“Ons kon die vlamme met hul hulp vinnig blus, wat groot skade gekeer het. Ons kon alles in ons huis verloor het. Ons kon selfs ons lewe verloor het – oor een klein foutjie,” voeg Jonty by.
Jonty se vrou, Maranell, sê sy is dankbaar vir haar bure se spoedige optrede.
“Wat as ons geslaap het en dit het gebeur en niemand het dit gesien nie? Dit kon soveel erger gewees het.”
Hul bure, Koos en Willem April, sê hulle het buite gesit en rook toe hulle die vlamme sien.
“Ek het gedink hulle is dalk nie by die huis nie, want dit was donker. Ek het my broer geroep en twee emmers gegryp om die vlamme te blus. Ons is net bly ons kon help,” sê Willem.





