Worcester se Neville Wentzel het die teks van Huismoles geskryf.Foto: Verskaf


Worcesteriete en diegene wat bande met dié dorp het, gaan uit die veld geslaan word deur die verhoogproduksie Huismoles, wat in Augustus op die planke gebring word.

Huismoles kom uit die pen van die oudonderwyser Neville Wentzel van Worcester. Hy het die teks self geskryf en is boonop die regisseur en vervaardiger.

Volgens Wentzel word maatskaplike kwessies, waaronder vrouemishandeling, drank- en dwelmmisbruik, tienerswangerskappe en gestremdheid in dié meesterstuk van hom onder die vergrootglas geplaas.

Wentzel sê hy het Huismoles sowat 20 jaar gelede geskryf toe sy kollegas by Victoriapark Primêre Skool, waar hy onderwys gegee het, besluit het om ’n toneelstuk op te voer.

“My voorstel was dat die onderwysers die hoofrolle vertolk. Die toneelstuk is destyds met groot sukses by die skool opgevoer – soveel so dat ons gevra is vir ’n opvolg. Dit het egter nooit gebeur nie…”

Wentzel sê in September of Oktober verlede jaar – terwyl hy besig was om sy studeerkamer op te ruim – het die teks van Huismoles letterlik in sy skoot geval. Dis toe dat hy besluit het Huismoles gaan weer die lig sien.

Volgens hom het hy “so bietjie” aan die stuk geskaaf.

Wentzel sê Huismoles is die storie van drie sterk vroue – elkeen wie se omstandighede anders is. “Wat hulle dieselfde maak, is dat hulle ma’s is.”

Hy sê die toneelstuk gaan basies oor die verhouding tussen ouers en hul kinders en hoe hulle probleme aanpak.

Huismoles neem die gehoor na die dorpie Mooivlei waar hulle kennis maak met die karakters wat hulle op ’n onvergeetlike reis neem.

Die gehoor kan uitsien na onder andere die oudskoolhoof Sammy Louw (Oom Bertus) wat ná 50 jaar weer op die planke gaan wees. Hy vertolk die rol van die 72-jarige Oom Bertus.

Nog ’n jong akteur wat met sy briljante toneelspel beïndruk, is die sewejarige Isak Burger (Seuntjie), ’n leerder aan Victoriapark Primêre Skool. Isak is die jongste in die rolverdeling.

Wentzel sê Huismoles is ’n “mengelmoes van genres”. Volgens hom is daar ligte en swaar oomblikke in dié toneelstuk.

Hy raai diegene wat na Huismoles wil kom kyk, aan om “ ’n groot sakdoek” saam te bring omdat die trane gewis gaan vloei.

Wentzel sê in Huismoles is kan die gehoor baie lewenslesse saam met hulle huis toe neem.

“Die toneelstuk is gewis iets wat ons as gemeenskap nie moet mis nie.”

Huismoles word van 8 tot 10 Augustus in die Kleinteater in Russellstraat, Worcester, opgevoer. Kaartjies kos R120 per persoon en is beskikbaar by Quenet’s Apteek, Hugo’s Café in die Quenet’s Arkade en by Vallei FM se kantoor in Greystraat.

Die verrigtinge begin stiptelik om 19:00 en die drag is streng formeel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article