Sondag 24 September 2023 gaan gewis onthou word vir die ongekende stortvloed reën, wat meer as 100 mm op sekere plekke geval het.
Terwyl al Breedevallei se damme reeds vol was en die grond steeds papsopnat van die vorige reën was, het hierdie verdere neerslae tot kitsoorstromings, modderstortings en oorstroming van paaie gelei. Gevolglik is munisipale rampbestuurspanne op ’n hoë gereedheidsgrondslag geplaas.
Tydens die oorstromings en hul nadraai is die BVM-inbelsentrum met oproepe oorval en in twee dae het dié sentrum altesaam 1 369 foonoproepe hanteer. Van hierdie oproepe was oor nege gemeenskappe wat deur water vasgekeer was, drie voertuigongelukke en een brand.
Padskade
Paaie wat die meeste geraak is, was Sanral se N1 wat van die R43-Wolseleypad tot die Cerespad aan die Touwsrivier-kant gesluit moes word. Die N1 is in die omgewing van GG-Kamp en Sunnyside kwaai beskadig deur puin en die padskouers wat weggespoel het.
Die Nuyrivierbrug op die R60 het ook tot ongekende vlakke oorstroom toe die Nuyrivier sy hele loop verander het en die Robertsonpad vir etlike ure gesluit moes word.
Landelike paaie wat die Kaapse Wynlanddistriksmunisipaliteit in stand moet hou, soos die De Hoekpad by Rawsonville, die Doornrivierpad, die GG-Kamp-ingangspad, die Kanetvlei-laagwaterbrug, die Lemoenpoortpad, die Moddergatpad, die Nonnapad, die Nuylaagwaterbrug, die Orchardpad, die Sandhillspad, die Slanghoekpad en die Sunnyside-ingangspad is ook erg beskadig.
In hierdie tyd is ses elektrisiteitsfoute aangemeld, waar ’n plek soos Ekuphumleni by De Doorns veral erg geraak is. Die brandweer en nooddienste is ontplooi en die behuising-en-menslike-nedersetting-afdeling het inwoners in laaggeleë gebiede in vloedgeteisterde plekke en op rivieroewers en in vleilande bly, te gaan bystaan.
Touwsrivier en Omgewing
Hoewel die Touwsrivier sy oewers oorstroom het, is minimale skade in die dorp en aan munisipale infrastruktuur aangerig. Buite Touwsrivier by Bloutoring, in die omgewing van Nouga, is 11 families van die buitewêreld afgesny toe die Touwsrivier sy walle oorstroom het. Die brandweer moes 11 kospakkies met reddingsbote aflewer.
De Doorns en Omgewing
By De Doorns het die toegangspaaie na GG-Kamp en Sunnyside weggespoel en inwoners moes ompaaie gebruik. In De Doorns self het georganiseerde landbou families in nood bygestaan.
Rawsonville en Omgewing
Gelukkig is geen ernstige skade in Rawsonville aangemeld nie. Die watergat langs Geelkampie het egter tot die oorstroming van sekere strukture binne hierdie nedersetting bygedra. In Angelierstraat, De Nova, het ’n stormwaterpyp, wat deur onwettige afvalstorting geblokkeer was, veroorsaak dat ’n paar huise oorstroom is. Die gemeenskap van Spokiesdorp is nie ontruim nie omdat ’n keerwal vroeër vanjaar gestoot is om te verhoed dat die Molenaarsrivier sy walle oorstroom. Dit was suksesvol en dit was dus nie nodig om die inwoners te verwyder nie.
Worcester en Omgewing
Geen ernstige vloedskade is in die dorp self aangemeld nie, maar die informele nedersettings in wyk 16 (Zwelethemba) en wyk 21 (Avianpark) is erg deur stagnante waterpoele en modder verontrief.
By Aan de Doorns was 22 families van die buitewereld afgesny toe die Nuyrivier sy walle oorstroom het. Altesaam 29 kospakkies met sewe dae se voedsel, 16 komberse, agt matrasse en vier bokse babakos is aan hierdie mense gegee.
By Doornrivier en Moddergat was 118 families tussen twee riviere vasgekeer en van die buitewêreld afgesny omdat die provinsiale roete se brûe op twee plekke verspoel is. Altesaam 118 kospakkies met sewe dae se voedsel is daar oorhandig, asook vier bokse babakos, vier bokse melk, twee groot pakke babadoeke, vier bokse sagte babakos en een groot pak toiletware, tesame met 140 komberse aan families wie se besittings weggespoel het.
Die brandweer moes al hierdie goedere noodgedwonge met reddingsbote oor die rivier neem.
By Koppies tussen Worcester en Villiersdorp was 25 gesinne ook van die wêreld afgesny toe die provinsiale roete se brûe op twee plekke weggespoel het.
Vier gesinne se huise was onder ’n meter diep sand toegespoel. Altesaam 25 kospakkies met ongeveer sewe dae se kos, water en sanitêre benodigdhede is hier oorhandig, tesame met 20 komberse en 10 matrasse.
’n Opregte woord van dankbaarheid gaan uit aan die etlike individue en organisasies wat kos, water, klere en beddegoed by die Worcester-brandweerstasie gaan afgee het om uitgedeel te word. Afgesien van kleiner skenkings het Sasko meer as 2 000 brode in geteisterde gebiede uitgedeel. Gift of the Givers het 770 kospakkies uitgedeel en Shoprite het ook skenkings gedoen.
Die publiek het verskeie lesse in so ’n uiterste situasie geleer, te wete: Bly ingelig; beveilig jou eiendom; vergewis jouself van jou gebied se ontruimingsplan indien jy in ’n laaggeleë gebied bly; bly binnenshuis en neem skuiling; laai jou elektriese toebehore voor die tyd en bly in kontak met jou naasbestaandes en geliefdes.


