Die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) het die provinsie se top-matriekleerders en skole tydens die 2022-skooljaar in al die onderskeie kategorieë die afgelope Donderdag (2 Februarie) aangewys.
Ashton Public Combined School is die enigste skool in die Langeberg-gebied wat ’n prys gewen het vir die grootste verbetering in die gemiddeld van isiXhosa as huistaal – van 58% in 2021 na 64% in 2022.
Zoë Meyer, ’n oudleerder van die De la Bat-skool, wat verlede jaar matriek aan dié skool voltooi het, is as die matriekleerder met die hoogste gemiddelde in Suid-Afrikaanse Gebaretaal aangewys.
Die Hoër Tegniese Skool (HTS) Drostdy is in die topdrie van die provinsie se beste tegniese skool, en Pierre Trotzky het die prys ontvang vir die matrikulant met die beste gemiddelde in tegniese wiskunde in die 2022-matriekeindeksamen.
Volgens Suzanne Trotzky, Pierre se ma, is haar seun passievol oor die tegniese kant van wiskunde, en weens sy natuurlike aanleg, sowel as sy deursettingsvermoë en goeie dissipline, het hy 94% losgeslaan.
Louis Steijn, HTS Drostdy se hoof, het verduidelik die skool se goeie gemiddelde in wiskunde sowel as wetenskap en ingenieursgrafika en ontwerp (IGO), het die skool derde geplaas. Volgnes Steijn mik die skool sonder twyfel wéér vir die eerste plek, met die skool se grootste kompetisie wat Langenhoven Gimnasium insluit.
Pierre sluit binnekort by die Kaapstad Universiteit van Tegnologie (KSUT) aan waar, hy ’n graad in siviele ingenieurswese sal studeer.
Adrienne Murray van die Pionierskool het ook ’n prys ontvang as die leerder met een van die twee hoogste gemiddeldes in die matriekeksamen ten spyte van ’n liggaamlike uitdaging weens sigverlies.
Volgens David Maynier, die Wes-Kaapse minister van onderwys, is die 2022-matrieks een van die grootste groepe wat hul eksamen suksesvol voltooi het, en dit ten spyte van beurtkrag en die gevolge van die onlangse Covid-19-pandemie.
“Ten spyte van die uitdagings, het ons [die Wes-Kaap se] slaagsyfer tot 81,4% gestyg, terwyl ons terselfdertyd ’n retensiekoers van byna 70% behaal het, wat daartoe gelei het dat 49 102 kandidate matriek geslaag het,” het Maynier verduidelik.
Die onderwysdepartement het ook aangekondig dat onderpresterende skole – skole met ’n slaagsyfer van minder as 60% – vanjaar van 38 skole in 2021 tot 30 in 2022 gedaal het.




