Petrus Lombard van die Hoër Tegniese Skool Drostdy het ‘n spesiale ministeriële toekenning ontvang. Saam met hom op die foto is die provinsiale minister van onderwys, David Maynier en sy ouers.


Verskeie plaaslike skole het erkenning gekry vir hul harde werk tydens die Wes-Kaapse Nasionale Senior Sertifikaat-toekennings wat op Donderdag 30 Januarie gehou is.

Die goeie matriek-uitslae was ekstra soet ná ‘n uitdagende 2024. “Dit was ‘n moeilike jaar waarin die onderwysdepartement onder geweldige druk verkeer het. Dit was een van ons taaiste jare nog en ons moes moeilike besluite neem om die begroting te laat klop,” het die Wes-Kaapse onderwysminister, David Maynier, gesê.

Hoër Tegniese Skool Drostdy is verskeie kere tydens die toekennings benoem. Nie net is die skool aangewys as die beste tegniese skool in die provinsie nie, maar het ook hoogste persentasietoename in die hoeveelheid vakonderskeidings tussen 2022 en 2024 behaal. Stefan Burden was aangewys as die provinsie se vyfde beste kandidaat in die matriekeksamens. Drostdy het ook die vierde hoogste toename in die persentasie kandidate wat kwalifiseer vir Baccalaureusgraad-studies gehad.

Drostdy-leerling Petrus Lombard het ‘n spesiale ministeriële toekenning ontvang. Lombard, wat met geboorte met Duchenne-spierdistrofie gediagnoseer is, het is geloof vir sy vasberadenheid en deursettingsvermoë. Ten spyte daarvan dat hy sy been in sy matriekjaar gebreek het, was hy altyd vriendelik. Sy harde werk is beloon en hy het ses onderskeidings behaal.

Hoërskool Tulbagh was die skool met (meer as dertig matriekleerlinge) wat die grootste verbetering in hul slaagsyfer gehad het van 2022 tot 2024.

In die kategorie vir skole met meer as tagtig matriekleerlinge, het Zwelethemba High School in Worcester die grootste verbetering in hul slaagsyfer gehad, met Ilingcinga Zethu Secondary School in Ceres in die tweede plek. Esselenpark Secondary School in Worcester was derde en Worcester Sekondêre Skool was sesde.

Jordan Raubenheimer van De La Bat-skool in Worcester was die leerling wat die beste gedoen het in Suid-Afrikaanse gebaretaal en Louw van Dijk van Worcester Gimnasium was die beste leerling in Inligtingstegnologie.

Jo-marie du Toit van Hoërskool Charlie Hofmeyr in Ceres het die beste uitslae vir rekeningkunde in die provinsie gehad. Sy was ook algeheel die vierde beste matriekkandidaat in die provinsie.

Venette Barnard van die De La Bat-skool en Sinegugu Silara van die Pionierskool (beide in Worcester) het toekennings ontvang vir uitnemendheid ten spyte van struikelblokke.

• Die volle uitslae en reaksies hierop sal volgende week in die Worcester Standard & Gazette gepubliseer word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article