Dit is volgende week op 30 Mei D-dag vir inwoners van die Breedevallei wanneer tariewe weer verhoog gaan word – veral dié van elektrisiteit – wanneer die begroting vir die 2023-’24-boekjaar waarskynlik goedgekeur gaan word.
Die voorgestelde skok-tariefverhoging van elektrisiteit is 18,65% nadat Nersa (die nasionale energiereguleerder van Suid-Afrika) ’n tariefverhoging van 18,49% aan Eskom goedgekeur het, wat beteken die munisipaliteit moet 18,49% meer vir grootmaatelektrisiteitsaankope in die nuwe boekjaar betaal.
Die voorgestelde begroting beloop tans altesaam R1,68 miljard.
Die ander tariefverhogings is as volg: . Eiendomsbelasting sal met 6,95% verhoog word;. water en riool sal albei met 6,95% verhoog word; en. vullisverwydering sal met 6,95% verhoog.
“Die BVM het weer eens ’n begroting opgestel om die beste vir almal te doen. Die belangrikste vraag wat inwoners altyd vra wanneer dit by die begroting kom, is natuurlik ‘hoe gaan dit my sak raak?’,” het Antoinette Steyn, die BVM se uitvoerende burgemeester, vroeër gesê.
“Ons besef die lewenskoste styg voortdurend en die BVM kan dit nie vryspring nie. Ons probeer egter tariewe so laag as moontlik hou.”
As voorbeeld noem sy dat Nersa se elektrisiteitsverhoging 18,65% is terwyl die BVM se gemiddelde tariefverhoging net 6,95% is.
“Die uitwerking hiervan is dat verskillende huishoudings tussen R96 en R1 099 meer per maand sal moet betaal.
“Anders as wat mense dikwels sê, dra ons werklik die belange van ons gemeenskappe op die hart. Dit is duidelik uit die verskillende kortings wat vir behoeftige huishoudings sowel as pensioentrekkers beskikbaar is.”
Die burgemeester het ook ekstra geld beskikbaar wat sy tot haar eie diskresie kan gebruik.
“As uitvoerende burgemeester het ek ook ’n paar ekstra fondse beskikbaar om na goeddunke te gebruik vir spesifieke projekte soos beurse, toelaes vir hulpbefondsing, gestremdes, ramp-gebeure, misdaadvoorkomingsprogram en ander institusionele toekennings,” het die burgemeester bygevoeg.
Die nuwe begroting sal op 1 Julie in werking tree.



