Die vallei, soos ander gebiede vandeesweek in die Boland, is die afgelope paar dae behoorlik gepeper deur die kouefronte wat sneeu en swaar reënneerslae gebring het. En die ergste maak na verwagting vandag (11 Julie) sy verskyning, en verligting kan eers teen Saterdagmiddag verwag word.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het ’n vlak 8-weerwaarskuwing vir die Wes-Kaap uitgereik. Die geaffekteerde streke sluit die Breederiviervallei en Langeberg in.
Die kouefront wat die Wes-Kaap Sondag getref het, het sterk tot stormsterk wind (60-80 km/h), tussenposes van reën, sneeuval oor die berge en baie koue toestande meegebring, met dagtemperature wat tot onder 10 °C gedaal het.
Volgens die SAWD “kan die wind skade aan beide informele en formele nedersettings veroorsaak, ’n gevaar vir lewe inhou weens rondvlieënde puin, vervoerroetes en reisdienste beïnvloed, en onderbrekings in krag-, kommunikasie- en ander nutsdienste veroorsaak. Landbouproduksie kan ook geraak word.”
Willy John, senior kommunikasiebeampte by Langeberg, het met Standard $ Breederivier Gazette oor die impak in die Langeberg-munisipaliteit gepraat en gesê: “Ons het sedert die oggend van 7 Julie elke drie uur in konstante kontak met die openbare noodkommunikasiesentrum gebly om die ernstige weer-gevolge in die gebied noukeurig te monitor.
“Die Langeberg-munisipaliteit se oproepsentrumpersoneel het verskeie weer-verwante voorvalle aangemeld, insluitend die sluiting van laagwaterbrûe weens oorstromings en drie bome wat in die munisipale gebied as gevolg van sterk wind omgeval het. Die bome is sedertdien verwyder, met geen berigte van skade aan strukture nie.”
Wat onderbrekings aan noodsaaklike dienste betref, het Langeberg gesê elektrisiteit is tydelik in sekere dele van Robertson en Ashton onderbreek weens skade aan kraglyne wat deur sterk wind veroorsaak is. Hierdie skade is sedertdien herstel.
In die Breederiviervallei-munisipaliteit het die senior kommunikasiebestuurder John Bulani gesê: “In Rawsonville is slegs twee informele wonings geraak weens ’n hoë maslig wat oor die naweek ineengestort het. Gesinne wat weens die voorval verwyder is, is in die gemeenskapsaal gehuisves totdat hul informele strukture herstel is. Die departement van behuising en menslike nedersettings voorsien die gesinne deur die week van warm etes tot vandag toe.
“In hierdie stadium is geen verlies of skade aan landbou-infrastruktuur of -plantegroei aangemeld nie.”
Die SAWD het gewaarsku “inwoners moet waaksaam bly en veiligheidsaanwysings wat deur plaaslike owerhede uitgereik is, volg. Boere moet verseker dat vee teen die koue en wind beskut en beskerm word. Motoriste moet versigtig ry weens nat en gladde paaie.”
Namate die gure weer voortduur, bly die munisipaliteite waaksaam en proaktief om skade te beperk.





