Inwoners van die Breedevallei gaan weer swaar sluk aan die nuwe munisipale tariewe.


Met stygende kostes uit alle oorde die afgelope jaar gaan inwoners van die Breedevallei maar swaar sluk aan die tariefverhogings van die begroting vir die 2023-’24-boekjaar, wat vandeesweek op die raadsvergadering van die BVM-munisipaliteit goedgekeur is.

Die begroting bied wel ’n klein bietjie verligting in die elektrisiteitstariewe, wat met 15,1% styg, en nie die verwagte 18,65% nie.

Nersa (die nasionale energiereguleerder van Suid-Afrika) het vroeër vanjaar ’n skok-tariefverhoging van 18,49% aan Eskom goedgekeur.

Verder sal valleiers die volgende verhogings sien, wat van vandag af (1 Julie) hul sak gaan raak: Water 6,95%; sanitasie 6,96%; eiendombelasting 6,95% en vullisverwydering 6,95%.

In haar openingstoespraak het die uitvoerende burgemeester, Antoinette Steyn, gesê hierdie is ’n “begroting van hoop”.

“Gaan ons vir die mense hoop gee of gaan ons saam wag vir ’n beter toekoms? Die begroting is met trots en waarde saamgestel.”

Verder het sy gesê die begroting gaan oor hoop wat hulle aan die Breedevallei moet gee.

“Die Breedevallei-munisipaliteit sal vortgaan om agterstande in dienslewering die hoof te bied en sal waar nodig voorkeur aan dienslewering gee om seker te maak ons inwoners se dringendste behoeftes kry aandag. Ons bly daaraan verbind om ons dienslewering op alle vlakke te verbeter sodat hierdie munisipaliteit almal se lewensgehalte verbeter. Terselfdertyd bly sosiale ontwikkeling en plaaslike ekonomiese ontwikkeling ons kernfokus,” het die burgemeester in ’n mediaverklaring gesê.

Die totale begroting beloop R1, 68 miljard.

“Hierdie begroting bring sigbare hoop vir ons inwoners, want dit onderhou en voorsien basiese dienslewering en help met sosiale ontwikkeling. Dit help met ’n gunstige omgewing vir werkskepping en armoedeverligting deur proaktiewe ekonomiese verwikkeling, en ook om ’n gesonde, veilige en skoon omgewing op ’n volhoubare manier daar te stel,” lui die verklaring.

Die begroting is soos volg uiteengesit:

Watervoorsiening:

– R2 miljoen is uitgesit vir die voorafwerk wat nodig is voordat die verhoging van die Stettynskloofdamwal kan begin.- R3 miljoen vir gekraakte pype en die lê van nuwe pype.

behuising:

– R20 miljoen vir die Transhex-behuisingsontwikkeling;

Opgradering van rioolnetwerk:

– R13 miljoen vir die opgradering van die rioolnetwerk spesifiek in Avianpark, Roodewal, Riverview en Zwelethemba;

– R14 miljoen vir die nuwe Avianpark-rioolpompstasie;

– R14 miljoen vir die opgradering van die Touwsrivier-rioolwerke;

– R6 miljoen vir die verskuiwing van Zwelethemba se sogenaamde ‘mid-block’-rioolpype van agter huise se erwe na die straatfront;

– Die opgradering van die Worcester-Rioolwerke vir R2 miljoen, die omheining daarvan vir ’n verdere R2 miljoen en die aankoop van kragopwekkers vir R800 000 sodat riool tydens beurtkrag gepomp kan word.

Paaie:

– R5 miljoen vir die opgradering van paaie in Wyke 1, 2, 3, 4, 16, 17 en 18;- R1,5 miljoen vir spoedwalle.

Elektrisiteit:

– R15 miljoen vir die opgradering van die elektrisiteitsnetwerk;- R1,4 miljoen vir die opgradering van hoëmas-beligting;- R2,6 miljoen vir die opgradering van straatbeligting;- R600 000 vir die omheining van elektrisiteitsubstasies.

Kinders:

– R500 000 vir die ontwikkeling van speelparkies.Die begroting vir die verskeie wyke van die Breedevallei is ook onthul:

Wyk 1: – R7,7 miljoen vir die opgradering van grondpaaie;

Wyk 2:– R5 miljoen vir die opgradering van die watersuiweringsaanleg;

Wyk 6:– R3 miljoen vir die herseël van paaie;

Wyk 7:– R1 miljoen vir die herseël van paaie;

Wyk 8:– R12 miljoen vir die opgradering van grondpaaie in die nywerheidsgebied en R6,5 miljoen vir die opgradering van grondpaaie in die res van die wyk;

Wyk 10:– R1 miljoen vir die herseël van paaie;

Wyk 11:– R1 miljoen vir die herseël van paaie;

Wyk 12:– R3 miljoen vir die herseël van paaie en R1 miljoen vir die opgradering van staproetes vir siggestremde mense;

Wyk 13:– R1 miljoen vir die herseël van paaie;

Wyk 16:– R100 000 vir die opgradering van die Mtwazistraat-sypaadjie;

Wyk 18:– R850 000 vir die Overhex-biblioteek;

Wyk 19:– R1,1 miljoen vir ’n speelpark;

Wyk 21:– R2 miljoen vir die opgradering van grondpaaie.

In hierdie begroting is geld ook vir nywerheidsontwikkeling uitgesit. Die burgemeester verduidelik hierdie finansiering sal die aanvang van die Avianpark-nywerheidsgebied en die Uitvlugt-nywerheidsgebied ontketen.

R1,6 miljoen is vir die Avianpark-nywerheidsgebied se elektrisiteit, riool, stormwater en rioolaansluitings begroot.

R500 000 is vir die Uitvlugt-nywerheidsgebied se elektrisiteits-, pad-, riool-, stormwater- en rioolaansluitings begroot.

Ander aspekte waarvoor begroot is, is soos volg:

Gemeenskapsdienste:

– R1 miljoen vir die opgradering van munisipale huureenhede; – R1,5 miljoen vir die opgradering van die De Wet-sportterrein; – R4,9 miljoen vir die opgradering van die Rawsonville-sportterrein; – R3 miljoen vir die vervanging van Esselenpark-stadion se heining; – R1,6 miljoen vir die aankoop van nuwe verkeersvoertuie – R6 miljoen vir die aankoop van ’n nuwe brandweerwa.

stRategiese Dienste:

– R12,8 miljoen vir die aanbring van beurtkragoplossings en sonkragpanele, sodat munisipale dienslewering – veral by rioolpompstasies – ten spyte van beurtkrag kan voortgaan.

openbare dienste:

– R1,5 miljoen vir nuwe munisipale voertuie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article