Die Brandvlei-jeugsentrum Onafhanklike Skool buite Worcester spog met ’n 100%-matriekslaagsyfer.
Die top-presteerders is Matthew Benn (86,14%) met ses onderskeidings en een B- simbool (76%), Devon Jacobs (85%) met sewe onderskeidings en Luqmaan Bladsy (83%) met ses onderskeidings en een B-simbool (71%).
Benn is die algehele top-presteerder van al die gevangenis-gebaseerde skole landwyd. Altesame nege kandidate by die Brandvlei Jeugsentrum het die eksamen afgelê.
Luidens ’n verklaring van die departement van korrektiewe dienste (DKD) het die sentrum ’n 100%-slaagsyfer in die volgende vakke: Afrikaans- en Xhosa-huistaal, Engels 1ste Addisionele Taal, lewensoriëntering, wiskundige geletterdheid, besigheidstudies, geografie en toerisme.
Altesame 20 onderskeidings is in alle vakke behaal.
Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, sê die korrektiewe sentrum het in 2022 ’n 95,2%-slaagsyfer gehad met 20 van die 21 kandidate wat geslaag het.
In 2021 het hy ’n 94,7%-slaagsyfer behaal met 18 kandidate wat geslaag het. Negentien kandidate het die betrokke eksamen afgelê.
Volgens haar is ’n 68,8%-slaagsyfer in 2020 behaal met 11 van die 16 kandidate wat geslaag het.
Die DKD sê voorts in die verklaring die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, het die departement se graad 12-uitslae Dinsdag 23 Januarie amptelik by die Durban Westville korrektiewe fasiliteit in KwaZulu-Natal bekend gemaak.


