Die Brandvlei-hengelklub se eerste kompetisie vir 2024 het die afgelope naweek in lekker warm weer by Kwaggakloofdam plaasgevind. En was die visse nie gulsig om aas te vat nie!
Altesaam 128 vis is ingeweeg met Jacques van Graan wat die meeste uitgehaal het – altesaam 50, met ’n gesamentlike gewig van 25 kg.
Jacques was dus die algehele wenner asook die A-sone-wenner.
Megan van Graan was tweede in die sone en was die wenner van die vroue-afdeling.
Johan Coetzee het die B-sone gewen en was net ’n kortkop voor Juniel Baadjies. Hulle het algeheel tweede en derde geëindig.
Pierre Snyman het die veterane- afdeling gewen.
Piet Hugo het die swaarste witvis gevang (0,31 kg), Johan Coetzee die swaarste baber (3,63 kg) en Juniel Baadjies die swaarste karp (1,78 kg).
Iets wat verblydend was, is die feit dat die bedreigde witvis (barbus andrewi) in groot getalle voorgekom het. Die hengelaars het hulle versigtig hanteer en terug in die water vrygelaat.





