Brandbestryders het die afgelope week hul hande vol gehad met verskeie brande wat groot skade aangerig het.
Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) het ’n brandverbod vanaf Woensdag 19 Februarie ingestel. Dit geld selfs vir diegene in besit van ’n permit.
Drie brande het Dinsdag (18 Februarie) uitgebreek. ’n Brand by Lateganskop tussen Worcester en Wolseley het die brandspanne laat spook met winde en ongelyke terrein wat hul taak bemoeilik het. Hulle het deur die nag gewerk om die brand teen Woensdagoggend onder beheer te bring en om wingerde en bessies te beskerm. Een van die brandreserviste het hospitaalbehandeling nodig gehad, maar is weer ontslaan.
’n Tweede brand is laatmiddag by Boontjiesrivier op die R46-pad buite Tulbagh aangemeld. Spanne van die Kaapse Wynlande-distrik en die Witzenberg-munisipaliteit het gereageer.
Volgens die KWDM is lugbronne van Leading Edge, wat by Lateganskop gehelp het, hiernatoe herlei. Daar is gefokus om eiendomme teen die vlamme te beskerm. Die helikopters moes teen donker na hul basis terugkeer, maar die wind het die brand weer laat opvlam. Spanne het die brande deur die dag gemonitor.
’n Derde brand in Bainskloof is Dinsdagaand 18 Februarie aangemeld en het buite beheer gebrand. Die brand is volgens die KWDM deur sterk wind aangedryf en ’n hoë brandstoflading in die bloekomplantasies en het in die rigting van Slangrivier en die Bo-Hermonpad beweeg. Die brand het glo op die Oaklands-plaas bo Wellington ontstaan. Ten spyte van brandbestryders se pogings is twee skure en ’n huis vernietig. Twee kothuise in die berg is ontruim en het die vlamme vrygespring.
’n Brand wat Saterdag (15 Februarie) in die Banhoek-vallei buite Stellenbosch ontstaan het, is teen Maandagoggend onder beheer gebring.
Nog ’n brand het Vrydag 14 Februarie tussen die plase Fairfield en Cascade in Ceres ontstaan. Brandspanne het deur die nag gewerk om dit onder beheer te kry. Brandspanne is ook gedurende die week na brande by Kluitjieskraal buite Wolseley en die Montagu-natuurreservaat ontplooi.




