Die petrolprys het Woensdag (1 Junie) ’n nuwe historiese hoogtepunt bereik – en nog talle van hierdie goor “rekordbrekers” word in komende maande verwag.
Dit is omdat die stygende olieprys nie na verwagting binnekort gaan stabiliseer nie.
Die binnelandse brandstofprys vir 95-oktaan loodvrye petrol het tot R24,17 per liter gestyg – van R17,13 ’n jaar gelede. Die prys van 93-loodvry ??het Woensdag ’n hoogtepunt van R23,94/F bereik. Die groothandelprys van diesel het tot sowat R23,06/F gestyg.
Petrolpryse sou meer as R25 per liter bereik het as die verlaging in die brandstofprysheffing nie Dinsdag verleng is nie. Die verlaging van R1,50 per liter was veronderstel om einde Mei weg te val, maar is intussen tot 6 Julie verleng, gevolg deur ’n afwaartse aanpassing aan die verligting vir die tweede maand – tot 75c per liter van 7 Julie tot 2 Augustus.
Dit sal van 3 Augustus af teruggetrek word, luidens ’n gesamentlike verklaring van die Nasionale Tesourie en die departement van mineralebronne en energie.
Suid-Afrikaners moes die afgelope jaar toekyk hoe brandstofpryse met meer as 40% styg. Duurder vervoerkoste het ’n impak op die pryse van byna alle produkte, veral voedsel. Dit dra by tot ’n lewenskoste-krisis, wat huishoudings dwing om moeilike bestedingskeuses te maak.
Hierdie keuses sal na verwagting net moeiliker word, aangesien dit nie lyk of die olieprys tot bedaring gaan kom nie.
Brent-ruolie verhandel tans teen byna $120 per vat teenoor sowat $70 ’n jaar gelede.
Olie het Dinsdag tot die hoogste vlak in twee maande opgeskiet nadat leiers van die Europese Unie ingestem het om die meerderheid Russiese olie-invoere te verbied om dié land vir die inval in die Oekraïne te straf.
Die krisis met die brandstofprys het ’n hersiening van al die belastings en heffings – wat tans ’n derde van die petrolprys bydra – meegebring.
Tot dusver het die regering die heffing van 10c per liter wat op binnelandse 95-oktaan loodvrye petrol toegepas is, geskrap. Die regering het ook voorgestel dat die basiese brandstofprys in die komende maande met 3c per liter verlaag word.
Die regering het hom in ’n deurslaggewende stap daartoe verbind om die beperking op die prys van 93-oktaan loodvrye petrol te verwyder.





