Die DA het gevra die regering moet by die weghol-brandstofprys ingryp.
Dit volg nadat dit blyk die prys van petrol en diesel gaan weer skerp styg.
Kevin Mileham, die DA se woordvoerder oor minerale bronne en energie, het in ’n verklaring gesê hy het aan die speaker van die Nasionale Vergadering geskryf om ’n debat van dringende nasionale openbare belang aan te vra oor die uitwerking van skerp stygende brandstofpryse op die Suid-Afrikaanse lewenskoste en die stappe wat dringend geneem moet word om die armes teen die ergste gevolge te beskerm.
Die brandstofprys sal na verwagting in Junie met tussen R3,50 en R4 per liter styg. Mileham meen dit sal die reeds hemelhoë pryse van voedsel en ander noodsaaklike goedere ook laat styg, waarvan die meeste uitsluitlik van padvrag afhanklik is. Mileham sê dit is weens die algehele ineenstorting van die nasionale spoorlynstelsel. Die styging sal ’n massiewe, destabiliserende slag lewer aan “ ’n nasie wat reeds op sy knieë is”.
“Ons moet alles uithaal om die ergste gevolge moontlik van die ‘perfekte storm’ waarheen ons op pad is, af te weer. Junie se massiewe brandstofprysverhoging en die uitwerking daarvan sal die armstes die hardste tref in ’n tyd wanneer hulle reeds die dodelike gevolge moet trotseer van 46% werkloosheid, beurtkrag, irrasionele Covid-regulasies, stygende wêreldwye inflasie gedryf deur Rusland se inval in die Oekraïne, oorstromings in sommige gebiede en droogte in ander, en die staat wat toenemend nie selfs sy mees basiese mandaat kan nakom nie,” sê hy.
Mileham sê ’n styging van 5,3% in maatskaplike toelaes in April vanjaar is reeds deur die 9,6%-verhoging in elektrisiteitstariewe uitgewis. Hy sê Suid-Afrikaners kan nie bekostig om te betaal vir elektrisiteit wat hulle weens die huidige fase 4-beurtkrag nie eens op ’n betroubare wyse kan ontvang nie.
Mileham sê huishoudelike begrotings word nou uitgewis. Enige verdere petrolprysverhoging kan meer as 30 miljoen Suid-Afrikaners na nood en honger dryf. Dit is ’n dreigende humanitêre ramp, wat wydverspreide maatskaplike onstabiliteit en ’n herhaling van die Julie-onrus verlede jaar kan veroorsaak.
“Ons het dringende ingryping nodig om arm verbruikers teen die ergste van hierdie potensieel dodelike gevolge te beskerm. Die regering moet onmiddellik instem om enige styging in die koste van petrol en diesel in die kort termyn te beperk om Suid-Afrikaanse verbruikers teen hongersnood te beskerm. Meer basiese goedere moet op nulkoers vir BTW vasgestel word, en ’n breër strategie moet ontwikkel word om die stygende lewenskoste te stuit.”





