Brande het die afgelope week die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se brandweerbeamptes en vennote behoorlik op hul tone gehou met veelvuldige brande wat die Boland en omgewing bly teister het. Nadat die Wellington-brand vandeesweek ná vyf dae grootliks onder bedwang gebring is, het verskeie brande in die Witzenberg-gebied ontstaan. ’n Brand het Dinsdagmiddag net voor Bainskloof by Lateganskop ontstaan en veroorsaak dat die pas gesluit is. Dit is egter vinnig onder beheer gebring. Verskeie brande het in die berge tussen Tulbagh en Mitchellspas gewoed en was gister (Woensdag 26 Februarie) steeds aktief. Monitering en opruiming sal op al die ingekampte lyne voortgaan terwyl brandspanne op aktiewe lyne sal bly om die lyne in te kort namate dit toeganklik word. Geen beserings of verlies van eiendom het plaasgevind nie. Die brandbestryders van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se branddienste en vennote van Cape Nature en al hul gekontrakteerde grondspanne bedank die gemeenskap van PA Hamlet en die Rocky River Spur in Ceres vir hul vrygewigheid. Die etes, drankies en ander lekkernye het die gees van almal betrokke heelwat gelig!Foto: KWDM-branddienste


Brande woed steeds in die Boland

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article