’nDramatiese brand het Sondagaand (5 Februarie) in die Slanghoek-vallei net buite Rawsonville uitgebreek en talle plase, strukture en wingerde bedreig.
Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) se branddienste en die gekontrakteerde grondspanne van die NCC het goeie vordering gemaak om die brand in bedwang te bring.
Teen Maandagmiddag was die brand meestal ingehok.
“Lugondersteuning is Maandagoggend ontplooi, maar het al teen middagetetyd na die basis teruggekeer. Altesaam vier gekontrakteerde grondspanne, wat deur ses brandbestrydingsvoertuie ondersteun is, en altesaam 53 bemanningslede het toe na die brand omgesien,” het Jo-Anne Otto, ’n woordvoerder van KWDM, gesê.
Hoewel die brand meestal Maandag teen die middagetensuur ingperk was, het die aktiewe bestuur van opvlammings, monitering en opruimaktiwiteite tot sononder voortgegaan.
“Geen beserings of skade aan infrastruktuur of boorde is aangemeld nie,” het Otto bygevoeg.
Standard verneem van die boere in die omgewing het saamgespan om enige verliese te probeer voorkom.
Brandweerwaens en voertuie is ingespan om die brand te bestry.
Elsie Souls (52), ’n plaasbewoner van die Kromdraaicht-plaas in die vallei, sê sy en haar man en twee kinders het hul huis ontruim aangesien hulle bang was dit kan dalk deur die vlamme verswelg word.
“Danksy die Here se genade is alles nog staande. Ek is baie dankbaar – dit kon soveel erger gewees het en ons kon alles verloor het.”
Souls het in 2020 haar huis in ’n soortgelyke brand in die omgewing ook noodgedwonge ontruim.
Daar was sprake dat van die wingerd dalk gebrand het, maar by nadere ondersoek is bepaal dat die skade aan eiendom en wingerde minimaal was.


