’n Ondersoek na die brand by die stortingsterrein buite Worcester is deur die Wes-Kaapse departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning van stapel gestuur.
Intussen ondersoek die Breedevallei-munisipaliteit ’n saak van brandstigting.
Dit volg nadat die stortingsterrein verlede Dinsdagaand (8 Februarie) in ’n vlammehel verander het toe ’n brand daar ontstaan het.
Die Breedevallei Onafhanklik-party (BO) in Worcester het die probleem van die brand onder die aandag van die departement gebring, asook wat die party beskryf as “oneffektiewe herwinning by die terrein”. ’n Volledige ondersoek gaan nou gedoen word.
Die onmiddellike nagevolg van die brand was dat die rook oor die hele dorp getrek het en mense in verskeie buurte rook in hul huise gehad het.
Volgens JP Myburg, kommunikasiebeampte vir die Breedevallei-munisipaliteit (BVM), het die munisipale afdeling wat vir die stortingsterrein verantwoordelik is, onmiddellik die brandweer gekontak nadat hulle bewus gemaak is van die brand.
Volgens Myburg word ’n saak van brandstigting ondersoek.
Volgens hom is die stortingsterrein ’n moeilike terrein omdat enigeen toegang daartoe het.
“Dit is ’n groot gebied om te kontroleer en die BVM doen ’n beroep op inwoners om hulle in te lig as hulle weet van mense wat brande in die gebied stig,” sê Myburg.
Die BO het op sy beurt verlede week ’n brief aan die munisipale bestuurder gestuur waarin die brand by die stortingsterrein beklemtoon word.
Talle inwoners het Dinsdag- en Woensdagoggend gekla oor die rookreuk wat oor die dorp gehang het. Inwoners sê hulle is bekommerd oor die brande, omdat dit besoedeling veroorsaak.





