’n Plaaslike blinde proefleser, musikant en vertaler van Worcester wil sy vermoëns gebruik om musiek meer bereikbaar en toeganklik vir mede-blindes te maak.
Morné van der Merwe (41) is ’n doodgewone mens met die blote uitdaging dat hy nie kan sien nie. Van der Merwe was drie maande oud toe retinale verplasing by hom gediagnoseer is. Sy ouers het egter hul huishouding in Welkom opgepak en na Worcester verhuis om vir hom ’n beter toekoms te verseker.
Hy is toe na die Pionierskool vir Siggestremdes en het hier sy passie vir taal en musiek ontdek. Musiek het vir Van der Merwe van kleins af vreugde gebring en sy unieke talent was duidelik.
“My passie vir musiek en tale kom van my pa af. Hy is ongelukkig oorlede toe ek sewe jaar oud was. Hy was bitter musikaal gewees. Ek het toe ’n kinderboek gelees oor ’n meisie wat graag wil viool speel en dit het ’n merkwaardige indruk op my gemaak. Dit het my aangemoedig om vioollesse te begin neem.”
Nadat Morne in 1999 gematrikuleer het, het hy by die Universiteit Stellenbosch ingeskryf om tale en musiek te studeer. In 2011 het hy teruggekeer na Worcester en by Pionierdrukkers aangesluit. Pionierdrukkers is ’n nie-winsgewende organisasie wat literatuur in toeganklike formate vir siggestremdes beskikbaar stel.
Hy en sy vrou is ook die mense wat die diens aanbied om weekliks die Standard in oudioformaat vir die blindegemeenskap om te skakel.
Ook in sy hoedanigheid as braillemusiekproefleser help hy met die redigering van braillemusiek deur die gehalte daarvan te hersien en te proeflees om moontlike foute reg te stel. Hy speel ook elke Sondag orrel in twee plaaslike kerke en bespeel ook die viool by spesiale geleenthede.
Van der Merwe is ook nou betrokke by talle instansies wat die bevordering van materiaal vir siggestremdes beskikbaar stel.
Innovation for the Blind (IftB) wat voorheen bekend gestaan het as die Instituut vir Blindes bestaan reeds seder 1881 en is een van die organisasies wat bydra tot die dorp se titel as die omgeehoofstad van Suid-Afrika.
Hul missie is om siggestremdes, gedeeltelik siggestremdes en doofblindes te bemagtig en ’n beter lewensgehalte te gee. Hulle wil poog om die maksimum kwaliteite uit hierdie individue te put.
IftB help tans ook vir Van der Merwe om ’n volgende droom te bewaarheid. Hy benodig ’n Brailliant 40-X braille-skerm ter waarde van R55 000 om sy werk te vergemaklik. Hulle het vir hom ’n skarefinansieringsblad op die bekende Back-a-Buddy-webtuiste geskep.
“Hierdie toestel verbeter aantekeninge vir blindes en vergemaklik toeganklikheid van leesmateriaal in braille op ’n rekenaar. Ek kan dan hierdie toestel aan ’n rekenaar koppel en die inligting op die skerm sal onmiddellik in braille beskikbaar wees. Die braille-skerm sal my ook toelaat om die gesange wat ek nodig het om vir die kerk voor te berei, op hierdie toestel te laai,” verduidelik Van der Merwe aan Standard.
Die gesangeboek vir een kerklied bestaan uit nege baie dik brailleboeke. Gedrukte braille beslaan heelwat ruimte. Deur die hele gesangboek op die toestel af te laai, sal dit hom baie moeite spaar om boeke rond te dra. Dit sal ook papier bespaar aangesien hy nie die musiek in braille hoef te druk nie. Hy wil ook baie graag verder studeer en die Brailleskerm sal hom help om sy handboeke te lees en dan aantekeninge te maak.
Van der Merwe kan ook die toestel verder gebruik om ander te help om nuwe tale te leer. Tale soos Duits en Nederlands, wat hy ook kan praat. Hy kan ook Gaelies (’n Ierse en Skotse taal) praat en interpreteer en kan dan deur hierdie toestel ander met ’n passie vir tale so bystaan.
Enigeen wat bereid is om ’n bydrae te lewer, kan gerus kontak maak met IftB by 023 347 2745.





