Een van die ongelukke gedurende die feestyd het ’n speurder van De Doorns se lewe geëis. Foto: Oneway Towing


Minstens 207 mense het die feestyd op die Wes-Kaap se paaie omgekom.

Dit is volgens die 2021-padverkeerstatistieke wat Dinsdag (18 Januarie) deur Fikile Mbalula, die nasionale minister van vervoer, vrygestel is. Volgens Mbalula het die Wes-Kaap 74 meer sterftes as die vorige tydperk gehad – ’n 55,6%-toename teenoor 133 sterftes die vorige tydperk.

Die feestyd strek van 1 Desember tot 11 Januarie. Die minister het gesê die kernoorsaak van hierdie drastiese toename word blootgelê en moet op ’n beslissende wyse die hoof gebied word.

Landwyd

Volgens die minister is 1 685 sterftes landwyd vir dié tydperk oor die hele feestyd aangeteken.

Dit is ’n toename van 14% teenoor die vorige tydperk.

Hy sê dit is kommerwekkend dat meer sterftes vanjaar in vergelyking met die vorige tydperke voorgekom het.

Dit het vanjaar tot hoë passasiersterftes gelei vergeleke met die vorige tydperk. Passasiersterftes was 38% meer in die huidige tydperk.

Voetgangersterftes het met 41% afgeneem in die huidige verslagdoeningstydperk.

ongelukke
’n Ongeluk by Du Toitskloof Lodge op die N1 buite Rawsonville waar lewensverlies ook aangemeld is. Foto: Oneway Towing
ongelukke
Die Wes-Kaapse minister van vervoer, Daylin Mitchell, by die ongelukstoneel op die R60 waarin vyf jong vroue in die feestyd omgekom het.

Wes-Kaap

Die Wes-Kaapse provinsiale verkeersdienste het in die week van 10 tot 16 Januarie altesaam 247 geïntegreerde padblokkades, voertuigkontrolepunte en spoedbeheer-optredes oor die provinsie geïmplementeer, en 35 747 voertuie is voorgekeer en nagegaan.

Volgens die departement is altesaam 325 spoedoortredings aangeteken en 8 688 boetes van altesaam R10 238 000 is vir verskeie verkeersoortredings uitgereik, wat wissel van bestuurders onder die invloed van drank tot onpadwaardigheid van voertuie.

Altesaam 49 voertuie is geskut en 104 is op die pad verbied weens onpadwaardigheid.

Daylin Mitchell, die Wes-Kaapse minister van vervoer en openbare werke, sê hoewel hierdie getalle onaanvaarbaar hoog bly, is dit binne die konteks van die aantal voertuie wat voorgekeer en nagegaan is “net ’n breukdeel”.

“Weer eens, hoewel ek trots is op die werk wat ons beamptes gedoen het, moet ek ook ons wetsgehoorsame padgebruikers bedank, wat verreweg in die meerderheid is – jy dra by om ons paaie veiliger te maak.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article