Twee mense is dood toe ’n bus en ’n bakkie gebots het. Foto: One-Way Towing


Twee mense is op slag dood toe ’n bus en ’n bakkie Sondagaand teen mekaar gebots het.

Die ongeluk het omstreeks 18:45 op die N1 by Touwsrivier gebeur. Volgens die polisie was al die passasier op die bus Zimbabwiërs. In Maart vanjaar was ’n bus met Zimbabwiese passasiers op die N1 by De Doorns ook in ’n botsing. Dertien mense is in daardie voorval dood.

Volgens ’n stemnota van iemand wat die ongeluk gesien het, het dit 14 km voor Touwsrivier in die rigting van Johannesburg plaasgevind.

“Dit lyk nie baie goed nie. Van wat ek gesien het, was dit ’n Zimbabwiese bus met ’n sleepwa en ’n bakkie wat betrokke was in die ongeluk. Toe die bus my verbygesteek het, was dit om ’n draai en ek moes rem trap, want ek kon sien daar is aankomende verkeer. En as ek nie rem getrap het nie, sou hy reguit in die aankomende verkeer vasgery het. Ek weet nie hoe die mense op ons paaie ry nie,” lui die stemnota.

Ander inligting verkry dui ook daarop dat altesaam veertien mense in die ongeluk beserings opgedoen het.

Volgens die polisie het die bus in die rigting van Worcester gery.

“Die bus het in die rigting van Worcester gery toe die ongeluk gebeur het. Die bakkie is roekeloos bestuur. Die bus het probeer padgee, maar die botsing kon nie vermy word nie. Beide die bakkie se bestuurder en sy passasier is op slag dood. Ses mense – insittendes van die bus – het ligte beserings opgedoen,” het ’n woordvoerder van die Touwsrivier-polisie verduidelik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article