’n Vrou (23) is Sondagaand in ’n botsing by De Doorns dood.
Die bestuurder en haar vyf passasiers het in die rigting van Worcester gery toe hul motor onder die wiel van ’n vragmotor beland het.
“Die vragmotor het in die rigting van Touwsrivier by die vulstasie op die N1 by De Doorns gery toe die bestuurder ’n motor sien wat in die verkeerde baan in dieselfde baan as die vragmotor ry,” het ’n woordvoerder van die De Doorns-polisie verduidelik.
Albei voertuie wou vir mekaar padgee, maar dit was tevergeefs.
“Toe die vragmotor die motor in sy baan gewaar, het hy uitgeswaai, maar die motor het ook op dieselfde tyd uitgeswaai. Die motor het egter onder een van die vragmotor se voorste wiele beland.”
Een van die insittendes van die motor is op die toneel dood en die ander vyf insittendes is na die hospitaal geneem.
“Dit is tans onduidelik of die oorledene die bestuurder van die motor was. Die passasiers het almal verskeie beserings in die botsing opgedoen.”
Die polisie kon nie in hierdie stadium sê hoekom die motorbestuurder in die verkeerde baan gery het nie. Hulle het egter gesê daar was toe bierbottels in die motor.
“Ons kan ook nie sê of die bestuurder of die passasiers ten tyde van die voorval onder die invloed van alkohol was nie.”
’n Klagte van strafbare manslag is teen die vragmotorbestuurder aangemeld.
’n Stop-ry-proses is in werking gestel terwyl reddingswerkers op die toneel besig was.





