Dit was die ongelukstoneel waarin ses persone oorlede is naby Mouershoogte op die R60 tussen Worcester en Robertson. Foto: One-Way Towing


’n Botsing reg van voor naby die Nuy-wynkelder tussen Robertson en Worcester omstreeks 04:50 op Saterdag 29 Oktober, het die lewens van ses persone insluitend dié van ’n baba en ’n kleuter ge-eis.

Steve Delot (25), sy lewensmaat, Vontia Veenendaal (29) en hul dogter, Shaneqa Delot (4) het in die grusame botsing gesterf. Vontia se suster, Charlene Veenendaal (31), asook haar tannie, Eva Phillips (28) en haar seun, Evan Phillips (1) is ook op die toneel dood verklaar.

Volgens die woordvoerder van die Wes-Kaapse provinsiale verkeer, Jandre Bekker, blyk dit of die donkerkleurige Volkswagen Golf waarin die ses passasiers gereis het vanaf Worcester in die rigting van Robertson, in die vragmotor vasgery het.

Die vragmotorbestuurder is ongedeerd en is na die plaaslike hospitaal vir behandeling weens ligte beserings.

Adjudant Offisier Vathiswa Jacobs van die Worcester-polisie het aan Standard gesê dat die bestuurder van die vragmotor in sy verklaring gesê het dat twee voertuie besig was om mekaar verby te steek oor ’n vaste witlyn naby Mouershoogte.

“Die vragmotorbestuurder het geen manier gehad om die ongeluk te vermy nie en die Volkswagen het reg van voor in hom gebots. Die bestuurder van die vragmotor het dadelik die polisie in kennis gestel en die ander voertuig het die toneel verlaat. ’n Saak van strafbare manslag word ondersoek,” verduidelik Jacobs.

’n Familielid vertel aan Standard dat hulle verpletterd is oor die afsterwe van hulle naasbestaandes.

“Ons het heel oggend gebel, maar daar was geen antwoord. Hulle moes aansluit by familie in Aghulas en ons het bekommerd geraak. Ons het toe verneem daar was ’n ongeluk buite Worcester en ons moes ry om te gaan kyk. Dit was toe inderdaad hulle gewees,” vertel Roselda Bothman.

Bothman verduidelik dat hierdie ongeluk ses van hulle geliefdes weggeruk het en dat die seer vandag diep lê.

“Ons weet alles gebeur met ’n rede en ons moet vertrou op God se plan. Ons kan nou net by Sy voete rus en hoop dit bring troos. Ons was almal baie geheg aan mekaar en kan steeds nie eintlik glo dat hulle net weg is nie. Ons is diep geraak. Ons kan nie eintlik beskryf wat ons tans voel nie.”

Sy verduidelik dat hul elkeen ook ’n spesiale plek in haar en die res van die uitgebreide familie se harte gehad het.

“Vir Steve sal ons onthou met sy glimlag. Hy was liefdevol en het vir almal altyd ’n bynaam gehad. Sy twee dogtertjies was ontsettend lief vir hom Hy was wonderlik. Vontia was spontaan en vriendelik. Sy het altyd die blinkkant bo gehou. Charlene was ’n grapjas. Sy kon altyd die vertrek ophelder. Die twee kinders was albei lief vir hulle ouers en ons was net so lief vir daai twee. Eva was iemand wat respek gehad het vir haar medemens. Dit is sulke goeie mense wat nou van ons weggeneem is. Die liefde is waarop ons nou gaan fokus. Die liefde is wat ons gaan onthou.”

Die familie het nog geen begrafnisreëlings getref nie, maar sal binnekort besonderhede daaroor bekendmaak.

Steve Delot (25) en sy lewensmaat, Vontia Veenendaal (29) is ook in die ongeluk oorlede.
Vontia se suster, Charlene Veenendaal (31) is ook op die toneel dood verklaar.
Eva Phillips (28) was een van die insittendes.
Steve en Vontia se dogter, Shaneqa Delot (4) het ook haar lewe in die botsing verloor.
Eva se babaseuntjie, Evan Phillips (1) is ook tragies oorlede.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article