’n Bekende sakeman van Worcester se lewe is Maandag 26 Augustus kortgeknip toe hy in ’n motorongeluk betrokke was.
Die motor waarin Deon van Zyl gery het, het omstreeks 12:00 teen ’n vragmotor op die Overhex-pad gebots.
“Dit blyk die bestuurder van die VW Tiguan het beheer oor die voertuig verloor. Die motor het toe in die baan van aankomende verkeer beland voordat dit reg van voor teen die vragmotor gebots het. Die bestuurder van die vragmotor is ongedeerd,” verduidelik AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder vir die Worcester-polisie.
Van Zyl (54) is die stigter en uitvoerende hoof van Wynland Auto in Brownstraat. Hy en Kobus Theron het die onderneming in 2001 begin. Ná Theron se afsterwe het Van Zyl se neef, Jaco van Zyl, as vennoot aangesluit.
Standard & Breederivier Gazette het na Wynland Auto uitgereik.
“Deon het reeds jare gelede sy loopbaan in Virginia in die Vrystaat in die motorhandel begin en ’n groot sukses daarvan gemaak. Hy was geliefd onder vriende en het ook ’n groot bydrae in die gemeenskap gelewer. Hy sal gewis baie by die Worcester-gholfklub gemis word vir sy reusebydrae as speler en bestuurslid, waar hy jare in die bestuur gedien het,” het Wynland Auto in ’n e-pos-boodskap geskryf.
Van Zyl was ’n lojale mens en toegewyde gesinsman en sal deur baie gemis word.
“Deon laat sy vrou, Sonet, en twee kinders, Jan en Nina, agter. Hy laat ’n groot leemte in die onderneming sowel as sy vriendekring en sal baie gemis word. Sy lojaliteit teenoor sy vriende en liefde vir sy familie was wyd bekend.”
Geen begrafnisreëlings is nog bekend nie.





