Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag nadat Marie Willemse (67) van Moosastraat, Roodewal, in Worcester, Maandagoggend (21 Oktober) aan haar beserings beswyk het nadat die bestuurder van ’n wetstoepassingsvoertuig Woensdagoggend 16 Oktober in die motor waarin sy ’n passasier was, vasgery het.
Die botsing het by die Leipoldtlaan- / Fischerstraat-kruising in Esselenpark gebeur.
Willemse se werkgewer, Susan Louw (72) van Fairy Glen in Worcester, se regter-sleutelbeen, -arm en -been is in die ongeluk gebreek. Sy is verlede Woensdagmiddag geopereer. Haar toestand is tans stabiel.
Die oorledene se dogter Charlene Jaftha het Vrydag 18 Oktober – voor Willemse se dood – aan Standard Breederivier Gazette gesê kort nadat Louw haar ma Woensdagoggend by die huis kom oplaai het vir werk, het mense in ’n bakkie voor hul huis stilgehou.
Volgens haar het die mense van buite geskree: “Charlene! Jou ma was in ’n ongeluk! Jou ma lê in Leipoldtlaan! Bring vir jou ma skoon klere! Daar is net bloed! Jou ma lê vol bloed!”
Jaftha sê sy, haar suster, Louwna Spruit, haar (Spruit se) tweeling en hul broer, Jonathan, het toe onmiddellik in Jonathan se motor afgesit na die ongelukstoneel.
“Toe ons daar kom toe sien ek Susan lê op die sypaadjie. Ek het na haar gegaan en haar gevra of sy oukei is. Sy het ja geantwoord. Sy (Susan) het nie regtig geweet met wie sy praat nie.”
Volgens Charlene was haar ma in daardie stadium in die ambulans. Sy het ’n suurstofmasker gedra. Sy sê haar ma het met haar rug na haar toe gelê. “Sy kon nie omdraai om my te sien nie.”
Charlene sê haar ma is die Donderdagaand geopereer.
Volgens haar het hul ma bloeding op die brein opgedoen. Haar gebreekte ribbes het haar regterlong en lewer deurboor. Willemse se regter-arm is ook gebreek.
Standard Breederivier Gazette verneem dat booswigte sekondes ná die voorval op die ongelukstoneel toegesak en van die Golf se onderdele wat met die impak van die bosting van die voertuig losgekom het, weggedra.
Willemse se handsak is ook op die toneel gesteel.
Louw se man, Leonard, sê hy het Woensdag omstreeks 08:40 ’n oproep van die polisie gekry dat sy vrou in ’n botsing betrokke was.
Hy sê hy was so bang, want hy het nie geweet of sy vrou nog lewe en of sy dood is nie.
Volgens Leonard is hul seun, Leon, in 1999 in ’n ongeluk dood. Hy was net 22 jaar oud.
“Toe ek die nuus van my vrou se ongeluk kry, toe kry ek terugflitse van hoe ek gevoel het toe ek die nuus van my seun se ongeluk gekry het.
“Al daardie gevoelens . . . die hartseer, het weer by my opgekom.”
Leonard sê toe hy die videomateriaal van die ongeluk sien, het dit gevoel hy kyk na ’n fliek.
Volgens hom het sy vrou hom uit haar hospitaalbed vertel sy onthou dat sy ná die botsing aan Willemse gesê het dat hulle uit die motor moet klim. Toe sy weer sien, toe lê sy (Willemse) op die sypaadjie met haar kop op ’n kussing.
Louw sê Willemse was vir sowat 25 jaar hul huishulp. Volgens hom was sy soos familie.
Carl Adendorff, wie se Mercedes-Benz ook in die ongeluk deurgeloop het, sê hy het in Leipoldtlaan gery op pad na Transhex. Volgens hom het hy ’n entjie weg van die stopstraat stilgehou omdat hy kon sien dat ’n ongeluk nou voor hom gaan plaasvind.
“Die bakkie het ook my kar getref en gerol. Ek het onmiddellik uit die kar gespring en die twee mense wat in die bakkie was, uitgehaal.
“Ek en nog iemand, wat later daar aangekom het, het toe die twee vroue uit die Golf gehaal.”
Volgens Adendorff is hy nou nog geskok. Hy sê hy is nie in die ongeluk beseer nie. Sy lyf is net ’n bietjie seer.
Jaftha sê haar ma se begrafnisreëlings is in dié stadium nog nie gefinaliseer nie.





