’n Geliefde onderwyser van Orchard Primêre Skool is Sondag in ’n motorongeluk dood.
Mervin Hendricks (58) was meer as 30 jaar ’n onderwyser by die skool. Hy was ook die departementshoof vir die senior fase. Die skool se hoof, John Harmse, en Hendricks ken mekaar al sedert hulle op hoërskool was.
“Ons paadjies het vir ’n ruk geskei, maar twaalf jaar gelede, toe ek as hoof by Orchard begin het, het dit weer gekruis. Ons het ook die afgelope twaalf jaar elke oggend saam werk toe gery,” verduidelik Harmse.
Hy noem ook dat Hendricks een van die mees toegewyde onderwysers was.
“Hy het altyd sy hand opgesteek om verdere kennis op te bou. Hy het seker gemaak hy beskik oor die nuutste inligting oor sy vakke. Hy was baie passievol. Hy was soos ’n jong onderwyser – altyd vol ywer. Hy het altyd die ekstra myl vir die kinders gestap.”
Hendricks was ook verantwoordelik om die uitstappies by die skool te reël.
“Hy het elke jaar die uitstappie na Potberg beplan. Hy was gaande daaroor om die kinders ander perspektief van die lewe te leer; om hulle te wys daar is ’n wêreld anderkant die Vallei. Hy wou altyd hul visie verbreed en hul menswaardigheid herstel. Ons skool en ons gemeenskap is armer sonder hom.”
Behalwe dat die twee kollegas was, was hulle ook baie goeie vriende.
“By die skool was hy my go-to-persoon. Ons kon ons probleme met mekaar deel. Hy het altyd sy beste in die lewe gedoen – in elke aspek van sy lewe. Hy was ’n baie gebalanseerde mens. Hy was ook ’n mense-mens en het met almal oor die weg gekom; altyd tyd gehad vir ’n grappie.”
Die ongeluk het Sondagaand om 20:05 op die Aan de Doorns pad oorkant die begraafplaas gebeur toe ’n swart Opel- bakkie en ’n Toyota trompop gebots het.
“Polisiebeamptes was toevallig besig om op daardie pad patrollie te doen toe hulle op die ongeluk afgekom het. Die Toyota, met drie insittendes, het in die rigting van Johnsonspark gery, en die bakkie was in die teenoorgestelde rigting op pad,” verduidelik AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie.
Sy verduidelik verder dat die swart bakkie, waarin Hendricks gery het, glo in die middel van die pad gery het.
“Die man wat die Toyota bestuur het, het probeer om meer na die kant van sy baan te ry om ’n ongeluk te verhoed, maar die bakkie het toe reg van voor teen hom gebots.
“Dis nie te sê die bestuurder was onder die invloed van alkohol nie; ’n volledige ondersoek moet eers gedoen word.
“Met die polisie se aankoms op die toneel het Hendricks agter die stuurwiel van die bakkie vasgesit en hy was bewusteloos.
“Die polisiebeamptes het na die Toyota se insittendes gaan kyk en hulle het almal geringe en ligte beserings opgedoen.
“Die bestuurder, sy dogter en sy kleindogter het almal behandeling vir die beserings ontvang. Met die ambulans se aankoms op die toneel het hulle Hendricks egter dood verklaar.”





