BONNIEVALE. – Twee talentvolle broers van dié dorp het vandeesweek hul buiging in die rolprentbedryf op nasionale televisie gemaak toe hulle in die kortfliek Die volmaakte gelukskoot verskyn het.
Die kortfliek, met die spel gholf as tema, is verlede Saterdag (6 April) op die televisieprogram Speeltoneel op die VIA-televisiekanaal (147) uitgesaai.
Volgens www.speeltoneel.co.za “is Speeltoneel ’n geleentheidsgedrewe projek wat vir jong en ouer opkomende toneelspelers (vanaf sesjarige ouderdom) die geleentheid bied om op nasionale televisie in ’n kortfliek te speel.”
Lorinda Klazen Prince, die twee belowende jong akteurs, Storm (21) en Stuart Prince (12), se ma, vertel met trots hoe dit gebeur het dat haar seuns albei ’n rol in die fliek gekry het. “Ek het televisie gekyk en toe sien ek die advertensie vir silwerskerm-oudisies op kanaal 147. Ek het Storm toe aanlyn geregistreer. Op die dag van die oudisies het Stuart net saam met Storm gegaan. Die rolprentvervaardigers het daai dag toevallig nog mense gesoek en Stuart het toe sommer ook ’n oudisie gedoen.”
Die oudisies is in Kraaifontein gedoen.
Kleinboet Stuart, tans ’n gr. 8-leerder by Jakes Gerwel Tegnies, wat volgens sy ma ’n professionele sokkerspeler wil word, het “sommer net ’n kans gevat”. Die geluksgodin het vir hom geglimlag en sy oudisie was ’n sukses.
Ná die oudisies moes die twee broers een keer ’per maand vir ses maande lank na Strandfontein reis waar hulle opleiding, aangebied deur die maatskappy Acting with the Stars, onder leiding van Vilje Maritz, ’n bekende akteur, ontvang het.
Die 21-jarige Storm, ook ’n oud-leerder van Jakes Gerwel Tegnies, het drama as ’n stokperdjie op skool beoefen. Hy het toe halsoorkop op dié skeppende kuns verlief geraak en verlede jaar (2023) ’n kursus in die uitvoerende kunste aan die Northlink Kollege Tygerberg suksesvol voltooi.
Tans is hy besig met sy BA-graad in verfilming en vervaardiging.
Vir Storm is toneelspeel nie iets vreemds nie. Hy het al twee keer in die Baxter-teater opgetree.
“Maar nou het die fliek-gogga vir Stuart ook behoorlik beetgekry. Hy oorweeg dit tans sterk om in sy ouer broer se voetspore te volg en beoog om ná skool drama te gaan studeer,” sê hul ma.
Die twee opkomende akteurs – en veral Lorinda – bars van die trots oor die voorreg wat die twee te beurt geval het om saam met die bekende veteraan-akteur, Albert Maritz, wat al in talle televisiedramas soos Konings, Arende, Alles Malan en nog vele meer te sien was, in dieselfde fliek te kan speel.
Maritz vertolk die rol van Peet, wat die taak opgelê is om ’n groepie gholfspelers op ’n klein dorpie te ontwikkel.





