Emile Koopman in gesprek met Standard & Breederivier Gazette oor die verweerde atletiekbaan op Bolandpark-stadion. FFoto: Enrico Claassen


“Die huidige toestand waarin die Bolandpark atletiekbaan tans verkeer, is van só aard dat dit nie geskik is om byeenkomste gelys op die Boland-kalender daar aan te bied nie.”

Só sê Mike Fraser, uitvoerende hoof van Boland Atletiek, die week aan Standard & Breederivier Gazette.

Volgens Fraser het Worcester Atletiekklub en skole hom geruime tyd gelede genader en ingelig oor die slegte toestand waarin die atletiekbaan by die Bolandpark-stadion in Worcester is.

Hy sê Boland Atletiek het in Julie 2022 op versoek van Worcester Atletiekklub en Worcester Skoleatletiek ’n vergadering met die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) belê.

Volgens Fraser is destyds besluit om aandag te gee aan van die probleemgebiede om die fasiliteit vir die 2023-seisoen gereed te kry.

Fraser sê die sandputte by die Bolandpark-stadion se sand is nie volgens voorskrifte nie. Volgens hom is dit te kompak en ’n veiligheidsrisiko.

“Driesprong- take off boards en cover ontbreek, wat beteken dat hierdie item glad nie daar aangebied kan word nie.

“Hindernis- en paalspring-items kan as gevolg van die skade aan die hardloop-oppervlak nie aangebied word nie.

“Skole en atlete gebruik tans die baan omdat dit die enigste baan in die Breedevallei-streek is. Die meeste skole beskik glad nie oor atletiek-geriewe by hul skole nie.

“Instandhouding is duidelik nalatig. Die fasiliteit benodig in-diepte- opknappingswerk. Dit moet ook gesertifiseer word om hoofstroom- byeenkomste aan te bied.

“Die Breedevallei-munisipaliteit as eienaar het nagelaat om die baan in stand te hou. Volgens Wêreld Atletiek is die maksimum leeftyd van die hardloopvlak 12 jaar. Ná vyf jaar word die oppervlak van ’n baan oorgedoen met lynmerke.

“Ek stel voor inspeksie moet gedoen word om die werklike toestand van die baan en ander geriewe te bepaal. Worcester Atletiekklub het ’n kundige op die gebied van sportgeriewe.

“Die Worcester-gemeenskap het oor baie jare bewys hulle is opgewasse om sportmense van hoë gehalte op te lewer in veral rugby, fietsry, sokker, krieket, netbal, atletiek, vlugbal en tennis.

“In 2024 het Rogail Joseph en Francois Prinsloo van Worcester Suid-Afrika by die Olimpiese Spele verteenwoordig. Dit moet seker die grootste eer en mylpaal wees vir die Worcester-gemeenskap en ons is baie trots op hulle.”

Fraser sê Boland Atletiek veroordeel ook ’n voorval op 31 Oktober by die Bolandpark-stadion toe lede van die polisie en provinsiale verkeersdienste tydens die bekendstelling van die Veilger Feestyd-veldtog ’n kapingsreaksie-demonstrasie uitgevoer het deur “aggressief” op die munisipale tartanbaan op die Bolandpark-stadion in Worcester te ry.

John Bulane, ’n woordvoerder van die BVM, sê hulle is bewus van die swak toestand van die tartanbaan by die Bolandpark-stadion in Worcester.

Volgens Bulane is die direktoraat van gemeenskapsdienste tans besig om ’n gekwalifiseerde kontrakteur aan te stel om herstelwerk te doen.

Hy sê die BVM neem kennis dat die toestand van die tartanbaan versleg het, asook van die openbare oproep om die baan en ander geriewe op te gradeer.

Op ’n vraag oor hoe gereeld instandhoudingswerk aan ’n tartanbaan gedoen moet word, sê Bulane daardie bepaling sal spruit uit die verslag wat deur die gekwalifiseerde kontrakteur ingedien moet word om herstelwerk te doen.

Bulane sê die stadion ondergaan deurlopende instandhoudingswerk. Hy sê die BVM sal verseker dat noodsaaklike herstel- en instandhoudingswerk gedoen word om die fasiliteit se gereedheid voor die komende atletiekseisoen te verseker.

Hy sê verder die fasiliteit is beskikbaar vir alle lede van die publiek wat belangstel om enige van die munisipale geriewe te gebruik. Volgens hom bestaan streng reëls oor hoe om die baan te benut.

Hy sê verder alle gevaarlike goed soos wapens van enige aard, ammunisie of komponente van vuurwapens, lemmetjies, messe, staalwapens, insluitend glas, by alle munisipale openbare fasiliteite streng verbode is.

Volgens hom maak ’n toegewyde span die stadion voor en na byeenkomste skoon.

Bulane sê die direktoraat van gemeenskapsdienste is tans besig om ’n munisipale sportraad te stig – ’n inklusiewe en verteenwoordigende liggaam om die diverse belange van sportklubs in die Breedevallei te verteenwoordig.

Volgens hom is hierdie onafhanklike liggaam se primêre mandaat om as waghond te dien en seker te maak dat alle BVM-sportfasiliteite gereeld in stand gehou word en teen misbruik en vandalisme beskerm word.

Bulane sê ingevolge die sportmeestersplan word die opgradering vir die volgende boekjaar – 2025-’26, wat op 1 Julie volgende jaar sal begin – verwag.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article