’n Bolandse skeidsregter wat in ’n Top- 12-rugbywedstryd foutiewelik ’n drie, wat volgens alle aanduidings duidelik nie een was nie, toegeken het, is vir minstens twee weke onttrek en sal gedurende dié tyd geen wedstryde hanteer nie.

Dié omstrede voorval het verlede Saterdag (19 Oktober) in die kragmeting tussen Saldanhabaai en Safcol United in die Transnet-stadion in Saldanhabaai plaasgevind.

Safcol het dié wedstryd naelskraaps met 27-25 gewen.

Die voorval het wye reaksie op rugbygroepe op sosiale media ontlok.

Ná die herrie wat dié omstrede voorval ontketen het, het die Boland- rugbyunie Woensdag 23 Oktober ’n mediakonferensie in die Flappie Lochner-saal in Wellington gehou.

Die doel was om die rugbypubliek oor die omstandighede rakende die voorval asook stappe wat geneem is, in te lig.

Die mediakonferensie is deur die president van die Boland-unie, Bennie van Rooi, die vise-president, Pat Marran, Kobus Vegotinie (bestuurder) asook Linston Manuels (bestuurder van skeidsregters) bygewoon.

Luidens die persverklaring het Van Rooi gesê: “Ná deeglike oorweging van die beeldmateriaal en ’n vergadering met die skeidsregtervereniging en betrokke skeidsregters wil ons die volgende duidelik maak:

“Die skeidsregter wat die drie toegeken het, het erken dat hy ’n fout gemaak het.

“Hy was nie in ’n posisie om duidelik te sien of die bal geplaas is of vorentoe aangeslaan is nie.

“Die skeidsregter het sy optrede as ’n menslike fout erken en toegegee dat daar meer duidelikheid benodig was voordat hy die drie toegeken het.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article